OUDTSHOORN NUUS - Die Raad van Trustees van die CP Nel-museum het Maandag 1 Junie 'n nuwe museum-assistent verwelkom.
Andrea Johnson (32) het meer as tien jaar museumervaring, veral by die Montagu-museum. Die raad is volgens Christo Smit, voorsitter van die Vriende van die CP Nel-museum, opgewonde om haar by die span te verwelkom. "Ons sien uit na haar kennis, entoesiasme en toewyding."
Tesame met haar aanstelling verwelkom die museum ook agt EPWP (Expanded Public Works Programme)-personeel.
Hulle sal aangewend word vir onder meer oudit-werk en digitalisering, instandhoudingswerk en erfenis en toerisme.
"Ons sien daarna uit om hulle as deel van die span te verwelkom en hul professionele ontwikkeling te ondersteun."
Twee van die agt interns keer terug na die museumprogram, wat waardevolle kontinuïteit binne die span sal verseker.
"Dit is 'n opwindende stap vorentoe vir die museum terwyl ons voortgaan om die ryk erfenis van Oudtshoorn en die Klein-Karoo te bewaar, te beskerm en te bevorder."
Die nuwe personeel by CP Nel-museum is agter, van links: Ronelda Bezuidenhout, Elmarie Esau en René Berry.
Middel: Andrea Johnson, Deidré-Ann Fillies en Estelle Saterdaght. Voor: Cecil Opperman, Niklaas Fortuin en Bradley Washinggreen. Foto: Louise Mouton
Ontmoet vir Andrea
Andrea is oorspronklik van Montagu, en het haar loopbaan in die museumsektor in 2015 begin toe sy as 'n EPWP-intern by die Montagu-museum aangesluit het.
"Gedurende my 11 jaar in die museumomgewing het ek waardevolle ervaring opgedoen in museumbedrywighede, erfenisbewaring, administrasie, besoekersdienste en gemeenskaps-betrokkenheid. My tyd by die Montagu-museum het 'n diep passie vir die bewaring van plaaslike geskiedenis en die bevordering van kulturele erfenis by my gevestig," sê Andrea
Haar toewyding aan die museum-sektor en haar strewe na profes-sionele groei het haar gemotiveer om nuwe geleenthede binne die bedryf na te jaag.
"Ek het vir die vakante pos by die CP Nel-museum aansoek gedoen en is op 28 April in kennis gestel dat my aansoek suksesvol was. Ek het amptelik op Maandag 1 Junie diens aanvaar en is trots daarop om deur my werk by die museum steeds 'n bydrae te lewer tot die bewaring en bevordering van ons kulturele erfenis.
Die ervaring, toewyding en entoesiasme wat ek oor die jare vir museumwerk ontwikkel het, het my toegerus met die vaardighede en kennis wat nodig is om 'n betekenisvolle bydrae tot die museumsektor te maak," het sy gesê.
Nuwe projek
Die Vriende van die CP Nel-museum het 'n nuwe projek begin waar hulle beoog om op 'n gereelde basis inwoners van tehuise vir uitstappies na die museum te nooi.
Volgens Smit word daar gehoop om elke maand 'n tehuis of gemeenskapsorganisasie na die museum uit te nooi om die museum se unieke geskiedenis en erfenis te kan beleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’