OUDTSHOORN NUUS - Anchen April het onlangs haar graad in maatskaplike werk aan die Hugenote Kollege verwerf.
Haar ma, Juanita April, beskryf die gradeplegtigheid as 'n trotse oomblik, aangesien Anchen se oumagrootjie, Matilda Sylvester, destyds die eerste bruin maatskaplike werker in Oudtshoorn was.
Matilda Sylvester het haar opleiding ontvang by die Minnie Hofmeyr Opleidingskool. Die Minnie Hofmeyr-kollege is in 1931 as die "Opleidingskool vir Christelike Kleurlingwerkers" in 'n gebou in Harringtonstraat 109, Kaapstad, begin.
Anchen se oumagrootjie, Matilda Sylvester (links) en haar vriendin Susanna Opperman.
Die opleidingskool het met nege studente begin. Hulle moes 19 jaar oud wees en in besit van 'n st. 6-sertifikaat wees. Later het dit na Worcester verskuif waar dit einde 1993 gesluit het. Matilda en haar vriendin Susanna Opperman, ook van Oudtshoorn, was van die eerste studente daar.
Juanita sê dit voel asof haar familie teruggekeer het na hul wortels, waar haar ouma se reis as maatskaplike werker begin het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’