OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep ANC-vroue het Donderdagoggend, 12 Desember, 'n vreedsame betoging voor die Oudtshoorn-landdroshof gehou.
Volgens die betogers word vroue se belange nie op die hart gedra nie. Oudtshoorn Courant het 'n afskrif van die memorandum van griewe bekom wat by die hof ingedien is.
Volgens die memorandum het 'n meisie aansoek gedoen vir 'n beskermingsbevel teen haar skoonouers en man met bewyse van mishandeling.
Suwayna Avontuur was in gesprek met Oudtshoorn Courant. "Met haar verskyning het sy voor 'n vroulike landdros verskyn. Nadat sy haar saak gestel het moes sy vanaf die landdros hoor, "Dit is nie nodig om die toe te staan nie, ek hanteer tans erger sake as die."
Toe bewyse voorgelê is moes sy hoor dat die landdros geen mishandeling kan bespeur nie, dat die klaagster glo 'n opvoeding moet kry, moet kom sit waar sy as landdros sit, of 'n werk moet gaan soek en ophou om hof toe te hardloop.
Volgens Avontuur is hierdie maar een voorval waarna verwys kan word.
"Daar buite is soveel vrouens wat afgejak word wanneer hul aanklop vir hulp. Hoe moet vroue om hulp vra as hulle so behandel word net omdat hulle nie goed geklee of nie goed genoeg kan praat nie, of wat ook al."
Volgens Avontuur is die beskermingsbevel eers toegestaan nadat hulle as gemeenskapsorganisasie betrokke geraak het.
"Hoekom moet daar eers ingetree word deur ander mense sodat mense regverdig behandel kan word? Ons is moeg daarvan dat vroue en kinders so behandel moet word, deur die plek wat ons as vroue en kinders moet beskerm?"
Volgens Avontuur is dit juis die rede waarom soveel sake van gesinsgeweld nie aangemeld word nie en slagoffers deel word van moordstatistieke.
"Ons vra dat daar hard gekyk moet word na die amptenare wat ons mense, en veral vroue so behandel. Ons vra net dat vroue regverdig behandel moet word."
Avontuur noem ten slotte dat dit veral skokkend is dat die voorval tydens die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders-veldtog gebeur het.
Oudtshoorn Courant het navraag hieroor gerig aan die Wes-Kaapse departement van justisie. Teen druktyd is geen reaksie op die medianavraag ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’