OUDTSHOORN NUUS - Plattelandse gemeenskappe, soos dié in Oudtshoorn, sal hul politieke verskille opsy moet skuif om die agteruitgang te stuit.
Daarom is dit belangrik dat munisipaliteite, sakelui, entrepreneurs en inwoners moet hande vat en eienaarskap van hul dorpe neem om met 'n omkeerstrategie dié agteruitgang te keer.
Dit, in 'n neutedop, was die antwoord van twee gespreksgenote op 'n vraag van Jody Hendricks van RSG.
Hy was die gespreksleier by die eerste gesprek in Die Burger se Praat Saam-diskoersreeks op die KKNK Maandag by die Netwerk24-feeskafee.
Die gesprek het grootliks gegaan oor hoe mens 'n dorp van verval kan red.
Hendricks het aan dr. Willie Cilliers, Wes-Kaapse voorsitter van die AHI, gesê baie Suid-Afrikaners reken ná 1994 het veral kleiner plattelandse dorpe agteruitgegaan en gevra of hy saamstem.
Cilliers het aan die gehoor vertel hy was 'n week gelede op sy geboortedorp, Heilbron, om die begrafnis van sy suster by te woon.
"Dit was skokkend om te sien hoe die eens trotse infrastruktuur van dié dorp agteruitgegaan het. Met al die slaggate lyk die paaie soos 'n begrafnisstraat."
"Maar," het Cilliers gesê, "dié probleme met infrastruktuur kom al lank vóór 1994. Lopende water en sanitasie was net vir sekere gemeenskappe beskikbaar. Ná 1994 was daar wel vordering met die verbetering van infrastruktuur, maar die instandhouding daarvan het verder agteruitgegaan."
Hendricks het vir Chad Louw, die 24-jarige burgemeester van Oudtshoorn, gevra wat hom laat besluit het om by die plaaslike regering betrokke te raak.
Louw het gesê hy wil kyk watter verskil hy in sy gemeenskap kan maak en dat hy graag betrokke wil raak om die agteruitgang op dié dorp om te keer.
"Ek wil deel wees van die oplossing. Ek is deel van die jonger generasie en ons kan nuut en vars na probleme kyk. Baie van die besluitnemers is ouerige ouens, maar ek glo ons jonger mense kan kom met 'n verskillende benadering."
Vervolgens wou Hendricks by Cilliers weet watter rol vaardigheid in die heropbou van dorpe speel.
"Vaardigheid is krities binne veral 'n munisipaliteit, maar dit wil voorkom of dit eerder gaan oor wie jy ken om in sekere posisies aangestel te word. Vaardighede is nie hoog op die prioriteitslys van baie plaaslike munisipaliteite nie en dan het jy boonop nog mense met topvaardighede wat afgetree het. Hul kennis en ervaring is wel beskikbaar, maar dit word nie ingespan nie.
"Politiek van die dag bepaal alles, maar dit los nie dorpe se probleme en swak dienslewering op nie."
Hendricks wou by die twee gespreksgenote weet oor die verhouding tussen die jonger generasie, wat meer vertroud is met nuwe tegnologie en die ouer geslag met hul ervaring en hoe mens dit kan versoen: oud versus jonk?
Cilliers het gesê beide is nodig.
"Ons moet die jonger generasie nadertrek. Hulle sit met die kennis, is tegnologies sterk en dink anders en innoverend, maar dit ontbreek aan praktiese ervaring.
"En dis waar die ouer geslag 'n groot rol kan speel om as mentors vir hulle op te tree. Ek glo beide kan saamwerk en help om die landskap ten goede te verander."
Louw sê een van die vernaamste redes waarom 'n dorp soos Oudtshoorn so agteruitgegaan het, is weens 'n gebrek aan kapasiteit in sekere poste en weens nepotisme. "Daar sit te veel mense in poste sonder die nodige kwalifikasies en ervaring."
"En hoe gaan julle die vaardighede oordra aan die volgende generasie sodat die dorp daarby kan baat vind?" wou Hendricks by Louw weet.
"Toe ek as burgemeester ingekom het, het mense gesê ek is te jonk vir die werk. Ek wil nie die oues wegstoot nie. Ek glo hulle is daar om my te help en te ondersteun. As jongman bring ek iets nuuts en ek sal graag dié nuwe denke met hul ervaring wil integreer.
"Ek verwag dat hulle vir my sal wys wat hulle van my dink.
"Die mense moet sê Chad bring iets nuuts en ons like wat hy doen, maar hoe kan ons hom help en ondersteun om daar uit te kom."
Louw reken ook as die privaat sektor inkoop by die plaaslike regering sal dit jonger mense lok om betrokke te raak.
Die plaaslike regering en die privaat sektor kan saamwerk om werk te skep.
Lees vorige artikel: Hoe red mens 'n dorp?
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'