OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub se dissiplinêre verhoor na die afgelope naweek se voorval op die Bridgton-sportgronde waar 'n skeidsregter deur woedende toeskouers aangeval is, vind vanaand plaas.
Dié voorval het groot reaksie onder rugbyliefhebbers ontlok met eise dat Bridgton uit klubrugby in die SWD geskors en met 'n stewige boete gestraf moet word.
Die 19-jarige skeidsregter is ná die A-span-wedstryd tussen Bridgton en Evergreens aangeval. Hy het onder meer 'n hou teen die kop opgedoen en ly aan ligte harsingskudding. Die jong blaser het intussen 'n kriminele klag by die Oudtshoorn-polisie ingedien.
Na die aanval is verskeie voertuie van Evergreens se toeskouers, asook taxi's waarmee spelers vervoer is, met klippe bestook.
Die voorval is voorafgegaan ná 'n omstrede besluit van die skeidsregter in die laaste oomblikke van die wedstryd. Bridgton het 31-26 voorgeloop toe 'n Bridgton-speler die bal uitgeskop het nadat hy glo ingelig is dat speeltyd verstreke is.
Die skeidsregter het egter aangedui dat daar nog twee minute oor is en 'n lynstaan aan Evergreens toegeken, waarna hulle in die doodsnikke 'n drie gaan druk het.
Die drie is verdoel en die wedstryd het kort daarna 33-31 in Evergreens se guns geëindig.
Die twee klubs ding tans mee in die SWD Top 8 Superliga, met Evergreens boaan die punteleer en Bridgton in vierde plek.
Volgens betroubare bronne is verklarings van die skeidsregter, sy assistente, die wedstrydassessor en toeskouers van Evergreens wat ook gedreig is, reeds vroeër die week aan die komitee oorhandig.
Beide klubs het skriftelike verslae ingedien, terwyl foto's en videobeelde van die voorval ook deel van die ondersoek uitmaak.
Hennie Baartman, president van Bridgton-rugbyklub, sê hulle gaan nie kommentaar lewer voor die proses nie afgehandel is nie.
Johan Allers, burgemeester van Oudtshoorn, het gesê dat die Bridgton-sportgronde 'n belangrike deel van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit se sportinfrastruktuur is, en het verseker dat daar ondersoek ingestel sal word na opsies om die veiligheid van sportmanne en -vroue, sowel as toeskouers, by die sportgronde te verbeter.
Gavin Esau, voorsitter van die SWD-skeidsregtersvereniging, het die voorval sterk veroordeel. Hy sê die jong skeidsregter se toestand word gemonitor. "Hy was Maandag weer by die dokter vir sy kopbesering. Ons en die unie bied ondersteuning, insluitend berading en ons sal hom op hierdie pad bystaan," het Esau gesê.
Volgens Esau is die skeidsregter nie 'n junior nie en is daar geen reël wat hom verhinder om te blaas nie.
"Baie skeidsregters begin vroeg, ek self op 13, en kyk na Sean Miller en Jason Jaftha. Hy is 'n belowende jong blaser wat reeds verskeie wedstryde in dié kompetisie hanteer het."
Esau sê hulle wil sien dat strenger sekuriteitsmaatreëls ingestel word om toegang tot die veld te beheer en dat veilige roetes vir wedstrydbeamptes verseker word.
Hulle versoek ook dat toeskouers met heinings van die speelveld weggehou word en zero-verdraagsaamheid teenoor skeidsregtermisbruik geld.
Nog versoeke sluit in dat klubs verantwoordelik gehou word vir veilige kleedkamers, aanwysing van 'n skakelbeampte en begeleiding van beamptes, terwyl glasbottels by wedstryde, asook drank, verbied word.
Spelers, afrigters en ondersteuners moet verder opgevoed en herinner word aan respek en die gedragskode van die sport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’