OUDTSHOORN NUUS - Johan Allers, burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het verlede week, in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum, polisiebeamptes, raadslede en munisipale amptenare, 'n staptoer deur Oudtshoorn se sentrale sakekern onderneem om dringende kwessies op grondvlak te ondersoek.
Volgens Allers was die doel van die besoek om eerstehands die toestand van die middedorp te evalueer en onmiddellik aandag te gee aan probleme wat inwoners en sakelui daagliks raak.
In Kerkstraat het Allers by munisipale werkers, wat besig was om strate te vee, gestop en hulle aangemoedig om ook onkruid op die sypaadjies te verwyder en stormwaterdreine skoon te maak. Hy het daarna tot in Adderleystraat gestap waar hy 'n restaurant, wat deur 'n buitelandse burger besit word, besoek het. Rou vleis is van die toonbank af aan klante verkoop. Die departement van gesondheid is onmiddellik gekontak en die vleis is kort daarna verwyder.
Rou vleis wat van die toonbank af verkoop is. Foto's: Liezl van Niekerk
Die burgemeester het ook die huis op die hoek van Unie- en Adderleystraat besoek, 'n voormalige meubelwinkel wat nou onwettig bewoon word. Die erf is twee weke gelede deur die munisipaliteit skoongemaak en afgesper, maar wetstoepassers het gevind dat die draad geknip is en dat vier persone (twee mans en twee vroue) daar bly. Vensters is stukkend geslaan, die houtvloer is gedeeltelik opgebreek vir brandhout, en daar is geen elektrisiteit in die huis nie. Die persone het op die vloer geslaap, maar daar is wel lopende water. Die onwettige besetters is intussen verwyder en wetstoepassers sal die situasie voortaan monitor.
REGS: Die huis op die hoek van Unie- en Adderleystraat wat deur onwettige besetters geplunder word.
Allers het ook 'n draai by die taxistaanplek gemaak, waar hy na klagtes van pendelaars en operateurs geluister het. Hy het met verskeie sakelui gesels en hulle verseker van die munisipaliteit se verbintenis om die plaaslike ekonomie te ondersteun.
Probleme geïdentifiseer
Volgens die burgemeester se woordvoerder, Christo Vermaak, het Allers die volgende probleme opgemerk:
- Onwettige karwagte.
- Stukkende en onveilige sypaadjies.
- Verstopte dreine.
- Onkruid in en langs strate in die sakesektor.
- Vuil en onveilige stegies tussen winkels.
- Onwettige handelspraktyke by sekere besighede.
- Onvoldoende toiletgeriewe by die Unieplein.
- Uitstaande huurkontrakte van stalletjiehouers by die Unieplein.
- Mense wat onwettig op die Unieplein woon.
Vermaak het verder gesê dat daar wel boetes uitgereik is vir mense wat oortree het.
"Ek is vasbeslote om saam met die gemeenskap en ons amptenare te werk aan 'n skoner, veiliger en meer toeganklike Oudtshoorn. Hierdie dorp behoort aan ons almal," het Allers gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’