OUDTSHOORN NUUS - Welkome reën het sedert gisteraand, 8 April, in Oudtshoorn begin val.
Padgebruikers word egter versoek om met omsigtigheid in die dorp te ry, aangesien die reën klippe op verskeie plekke oor die paaie gespoel het, wat ’n moontlike gevaar vir verkeer inhou.
Daar was ook vanoggend, 9 April, ’n rotsstorting op die Kangogrotte-pad. Verkeersbeamptes is op die toneel en bestuurders word versoek om stadig te ry en waaksaam te wees vir los klippe en moontlike verdere verskuiwings.
Die laagwaterbrug agter die stasie wat na Karoo Lusern Slaghuis lei, word deur die verkeersdepartement gemonitor. Die publiek word aangemoedig om alternatiewe roetes te oorweeg indien die watervlak styg. Wees asseblief versigtig indien u wel dié area moet gebruik.
Intussen is Meiringspoort oop vir verkeer en alle driwwe en padoppervlaktes is tans skoon. Daar is geen noemenswaardige waterafloop nie en net ligte reën is in De Rust aangemeld. Owerhede sal die publiek op hoogte hou van enige veranderinge.
Wat damvlakke betref, is die Stompdriftdam tans op 78%, met ’n indrukwekkende 5%-styging die afgelope 24 uur. Die Kamanassiedam is op 82%, hoewel daar nog geen nuwe invloei aangeteken is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’