OUDTSHOORN NUUS - Hy was ‘n stoere lid, staatmaker en ondersteuner van die klub en sal verskriklik gemis word.
So vertel Damon Gysman, voorsitter van die All Blacks-rugbyklub oor die ontslape Richard Seroux, wat verlede week na ‘n kort siekbed op 88-jarige ouderdom oorlede is.
Seroux het, volgens Gysman, op 13-jarige ouderdom by die klub aangesluit. Die klub is in 1948, 75 jaar gelede, gestig.
“Oom Richard was feitlik sy lewe lank lid van die klub en niemand moes iets snaaks van die klub sê nie. Hy het seker gemaak dat hy tydens derbywedstryde ‘n geleentheid kry om vir die A-span te bid. Hy het so uitgesien om hierdie jaar deel te wees van die klub se 75ste bestaansjaarvieringe.”
Nog ‘n oudspeler en -bestuurslid van die klub, Japie Coetzee, het Seroux die week beskryf as ‘n baie lojale mens.
“Hy was oral teenwoordig waar die klub betrokke was, hetsy op die oefenveld, by wedstryde, in vergaderings of tydens funksies. Hy was nie net teenwoordig nie, maar het sy alles gegee. En dit het hy gedoen in alle nederigheid en sonder om op die voorgrond gesien te wil word. En daardeur het hy respek afgedwing,” aldus Coetzee.
Volgens Seroux se oudste seun, die gemeenskapswerker Phillip Seroux, sal hy sy pa onthou as iemand wat nooit sy kinders teleurgestel het nie.
“Pappa was ‘n streng man in sy huishouding en het altyd gewys hoe hy sy vrou respekteer. Hy het die Here voluit gedien.”
Seroux laat sy vrou Jeanette, vyf kinders, 14 kleinkinders, 12 agterkleinkinders, twee broers en drie susters agter.
‘n Troosdiens word vanaand (Donderdag 30 Mei) om 18:30 in die Family Christian Centre (agter die Grace Church International) gehou terwyl Seroux Saterdag om 12:00 vanuit die Bridgton Assembly of God begrawe word.
Die huisdiens te Buffelweg 1294, Bridgton, begin om 11:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’