OUDTSHOORN NUUS - Die 18-jarige Alison Jegels van Oudtshoorn, wat blind gebore is, tree vanjaar as deel van die Proscenium-dialoë vir die heel eerste keer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op.
Alison is 'n leerling aan die Pionierskool in Worcester en het reeds haar plek in die teaterwêreld begin vestig.
Sy was een van die deelnemers aan die Proscenium-dramakompetisie, wat hoërskoolleerders van gr. 8 tot 12 die geleentheid bied om individueel deel te neem en hul kreatiwiteit op nasionale vlak uit te druk. Van die uitblinkers van hierdie kompetisie het die geleentheid gekry om hul dialoë op die KKNK se Jeugkunstefees op te voer.
Alison vertolk een van die hoofrolle in Loerie & Lizzy se Bunk-transaksie, geskryf deur Karli Heine en geregisseer deur Derek Daly. Haar mede-akteur, Cara Erwee van Hoërskool Charlie Hofmeyr, deel die verhoog met haar.
Alison se ma, Esmé Jegels, vertel dat haar dogter reeds op vierjarige ouderdom na die Pionierskool in Worcester is, aangesien daar nie fasiliteite vir hierdie kinders in Oudtshoorn beskikbaar was nie.
"Sy moes leer hoe om onafhanklik te funksioneer. Dit was 'n moeilike besluit, maar ek het geweet dit was haar enigste opsie. Ek het dit vir haar gedoen," sê Esmé.
Alison het in 2023 vir die eerste keer aan drama deelgeneem toe sy vir oudisies vir die Shakespeare-fees gegaan het. Sedertdien het sy aan verskeie toneelstukke deelgeneem en selfs verlede jaar 'n toekenning vir beste ondersteunende rol ontvang.
Alison erken dat die verhoog vir haar 'n uitdagende ruimte is.
"Ek is verskriklik bang vir die verhoog. Om te beweeg is 'n uitdaging, maar ek maak van matte gebruik.
"Ek voel dus met my voete waar die matte is en weet so waar ek moet wees. In Loerie en Lizzy se Bunk-transaksie moet ek op die verhoog hardloop. Dit maak my baie senuweeagtig, maar ek moet net op die matjie bly."
Hoewel drama vir Alison 'n groot passie is, wil sy ook graag meer tyd aan haar digkuns bestee.
"Ek skryf graag gedigte omdat dit vir my 'n manier is om my emosies uit te druk. Ek verkies ook om in Engels eerder as Afrikaans te skryf," sê sy.
Alison sê sy sien verskriklik uit na haar optrede.
"Ek is trots op wat ek bereik het. Ek werk hard vir wat ek wil hê en ek wil regtig graag hiervan 'n sukses maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’