CALITZDORP NUUS - Wat veronderstel was om 'n rustige familiesaamtrek te wees het Sondag tragies geëindig toe 'n agtjarige meisie by die Calitzdorp-spa verdrink het.
Cellumia-Lee Bezuidenhout het sedert Vrydag saam met haar familie by die spa gekamp.
Volgens 'n familielid, Samanthia Diedericks, het Cellumia-Lee op die swembad se rand gesit toe die voorval gebeur het.
"Ons het die GKTV (CCTV)-video gesien. Niemand van ons verstaan regtig hoe sy in die water kon val nie. Sy het rustig op die swembad se rand gesit en haar beentjies met 'n bekertjie natgegooi. Daar was seker 12 kinders in die swembad. Op die video sien mens hoe sy net vorentoe binne-in die water val. Niemand was by haar gewees nie. Niemand het haar ingestamp of aan haar geraak nie."
Diedericks sê Cellumia-Lee was ongeveer 12 minute onder die water. Een van die kinders het haar onder die water gevoel en 'n ander seun het ingeduik en haar uitgehaal.
"'n Jong seun het KPR (CPR) op haar gedoen. Hy het gesê hy kon nog haar pols voel. Hy het dit gedoen tot paramedici by die swembad opgedaag het en hulle het ook gesê hulle het nog 'n pols gevoel. Die paramedici het omtrent 'n uur lank probeer om haar te help. Hulle het hard probeer om haar lewe te red, maar dit was tevergeefs. Sy is op die toneel dood verklaar."
Volgens Diedericks is die kind se ma, Victoria, steeds erg geskok oor haar kind se dood.
"Victoria is baie hartseer. Cellumia-Lee was haar enigste kind. Sy het haar laat in haar lewe gehad en Cellumia-Lee was regtig haar wonderwerkie. Sy het haar altyd soos goud opgepas.
"Cellumia-Lee is met 'n hart- en longsiekte gebore en sy sou volgende maand vir 'n operasie gaan. Daar is so baie vrae rondom haar dood. Miskien was dit oor haar siekte of miskien het haar beentjies al hoe nader aan die swembad gegly soos sy haarself met die water gegooi het. Ons weet regtig nie hoe dit kon gebeur nie."
Diedericks sê sy hoop dat Cellumia-Lee se dood ook ander ouers en familielede meer paraat maak wanneer hulle kinders by water is.
"Cellumia-Lee is nie dood weens nalatigheid nie. Dit was letterlik in daardie sekondes wat ons nie gekyk nie. Dit was 'n fratsongeluk."
Diedericks het haar as 'n engelkind beskryf.
"Sy was saggeaard, sy het die mooiste maniere gehad en die mooiste persoonlikheid. Almal was so lief vir haar. Sy was 'n vreugde in ons lewe. Dit voel so onwerklik. Ons mis haar veral wanneer sy in die oggende moet regmaak vir skool of wanneer sy van die skool af moet huis toe kom. Cellumia-Lee sal vir ewig in ons harte gedra word. Ons sal haar nooit kan vergeet nie."
Cellumia-Lee se begrafnis word op 30 September in Ashton gehou.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'