OUDTSHOORN NUUS - Hulle wou graag die opvoedkunde en onderwys in 'n ander wêrelddeel ervaar en ook meer leer van dié leerders en onderwysers se kultuur en selfstandigheid, die Suid-Afrikaanse onderwysmetodiek, en veral hoe hulle klasse met méér leerders, maar met minder materiaal moet aanpak.
Dit is van die redes waarom agt Belgiese studente vanjaar weer van Januarie tot April in Prins Albert skoolhou. Die jaarlikse groep studente word hierheen gebring onder leiding van Marijke Coornaert van Antwerpen. Sy en haar eggenoot, die skilder Philip Badenhorst, besit 'n huis op die dorp en besoek die Karoo gereeld.
Roel Noens (23), Kasper Stockman (21), Steffi Ghys (23), Charlotte Schellekens (25), Hanna Mermans (20), Sophie Drykoningen (25), Maurane Vermeulen (22) en Emilia Ceho (22) het aan Oudtshoorn Courant vertel dat hulle hul lewe lank graag met kinders wou werk. "Ek wil graag 'n bydrae lewer tot hul lewe; ek wil hulle graag bystaan met hul ontwikkeling," vertel Sophie.
Emilia, Charlotte en Hanna gee klas vir graad 3's en Sophie vir graad 2's by Prins Albert Primêr, Maurane en Steffi is pre-primêre onderwysers by Sonneblom Kiddies College op die dorp, terwyl Kasper en Roel onderwysers is by die Prins Albert Vaardigheidskool waar elektrisiteit en tegnologie hul vakrigtings is.
Aanvanklik was dit moeilik om die leerders te verstaan omdat hulle te vinnig vir die Belge gepraat het, "en die kleuters van die preprimêre skool het nie besef dat ons hulle nie ten volle kon begryp of ons goed kon uitdruk om ons verstaanbaar te maak nie", vertel die voorskoolse onderwysstudente. Hoe langer hulle egter hier is, hoe beter gaan dit met wedersydse begrip, en die leerders help hulle ook met Afrikaans.
Standaardafrikaans is vir hulle maklik verstaanbaar, ook omdat dit nie so vinnig as die streektaal gepraat word nie.
Uitdagings in die skole is om dissipline op 'n positiewe manier te kan toepas, om leerinhoud oor te dra in verstaanbare Afrikaans, om sonder tegnologie in klasse te moet werk, om onderwys te gee met ander materiaal as waaraan hulle gewoond is, en om in 'n omgewing en tussen mense te wees met ander waardes en norme, vertel hulle.
Die lekkerste eg-Suid-Afrikaanse gereg wat hulle tot nou leer eet het, is melktert. Hieroor stem al agt studente saam!
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'