Update
OUDTSHOORN NUUS - Die AfriForum-tak in Oudtshoorn het Woensdag 11 Junie 'n interne appèl teen die Oudtshoorn-munisipaliteit ingedien nadat dié munisipaliteit versuim het om op 'n aansoek te reageer wat in April ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien is.
Die burgerregteorganisasie het in die aanvanklike aansoek deursigtigheid geëis oor die aanstelling van Mkhululi Yekani as munisipale bestuurder. Ondanks die munisipaliteit se voorneme om 'n deursigtige aanstellingsproses te volg, het AfriForum nog geen terugvoer op sy vrae oor Yekani se geskiktheid vir dié posisie ontvang nie.
"As die munisipaliteit nie eers daartoe in staat is om op 'n Paia-aansoek te reageer nie, sidder ons om te dink hoe daar te werk gegaan word om munisipale amptenare te keur en aan te stel," sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Nadat die nuwe munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, se permanente aanstelling in April aangekondig is, het AfriForum hom tot die burgemeester gewend om inligting rakende die aanstellingsproses en sy voldoening aan die wetlike vereistes van die pos, te versoek.
Die burgemeester se kantoor het egter geweier om die inligting te verskaf en AfriForum na die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, verwys.
AfriForum het nietemin op 23 April die burgemeester se kantoor besoek en 'n Paia-aansoek ingedien, asook kennisgewings per e-pos aan beide die burgemeester en die LUR se kantore gestuur.
Dié versoek moes volgens wetgewing binne 30 dae beantwoord word, maar steeds is geen reaksie ontvang nie. AfriForum het daarom 'n interne appèl ingedien om die munisipaliteit te dwing om op hierdie Paia-versoek te reageer.
AfriForum poog sedert September verlede jaar om met Yekani oor verskeie diensleweringskwessies in die munisipale gebied in gesprek te tree. Hy het toe as munisipale bestuurder waargeneem, maar het alle versoeke vir vergaderings bloot geïgnoreer.
"Dit is 'n kommerwekkende patroon van minagting wat die munisipaliteit ten toon stel. Inwoners het die reg om te weet watse amptenare hulle verteenwoordig, daarom is dit van uiterste belang dat die munisipaliteit deeglik met amptelike prosesse omgaan om orde te handhaaf," sê Erasmus.
"AfriForum sal voortgaan om as 'n waghond vir burgerregte op te tree en seker maak dat inwoners se regte beskerm word."
'n Navraag is aan die munisipaliteit gestuur, en die volgende terugvoer is ontvang:
Oudtshoorn-munisipaliteit het 'n persverklaring uitgereik rakende die aanstelling van die munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani nadat Oudtshoorn-Afriforum 'n interne appél ingedien het omdat die munisipaliteit geweier het om op 'n aansoek te reageer ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien is. Die aansoek het gehandel oor die aanstelling van Yekani.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit noem dat die aanstelling van die munisipale bestuurder is uitgevoer in streng ooreenstemming met alle relevante wetgewende en regulatoriese vereistes, insluitende deursigtigheid en 'n kompeterende werwingsproses. Dit het ingesluit 'n publieke advertensie rakende die vakante pos, 'n volledige kortlysproses, verifikasie van kwalifikasies en ondervinding, omvattende onderhoude deur 'n paneel en die indien van die voorgestelde kandidaat aan die munisipale-raad vir goedkeuring.
"Verder het die proses ingesluit die nodige instemming van die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, soos voorgeskryf in die wet en was hy tevrede met die proses en die geskiktheid van die kandidaat. Alle prosedures is gevolg om toe te sien dat die aanstelling wettiglik plaasvind en in die belang van goeie bestuur en effektiewe dienslewering.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’