OUDTSHOORN NUUS - AfriForum Oudtshoorn het verlede week begin om die parkie in Middelweg op te knap en veilig te maak.
Volgens Donovan Kleinhans, wat by AfriForum vir omgewingsake en munisipale bestuur verantwoordelik is, het die parkie die aandag getrek van die plaaslike buurtwag weens probleme soos oorgroeide bome, vullis wat gestrooi word en ongewenste elemente wat die parkie as skuilplek gebruik.
"Die parkie was onnet en inwoners het dit gebruik as 'n plek om rommel weg te gooi. Weens die oorgroeide bome het ongewenste elemente in die parkie begin slaap. Dit het 'n toename is misdaad soos diefstal en inbrake veroorsaak."
Die parkie voor hy skoongemaak is.
Dié faktore het AfriForum aangespoor om op te tree en die parkie weer mooi en veilig te maak.
"Ons het iemand gekry wat verantwoor-delikheid neem vir die sproeier en om die gras natmaak."
Kleinhans sê dat die projek nie net tot Middelweg se parkie beperk is nie.
AfriForum het ook verlede jaar begin met die parkie naby Luscombe- en Buitenkantstraat waar hulle gemors verwyder het. Hulle het reeds in 2019 nuwe bome by die parkie geplant.
"Ek het begin om die parkie skoon te maak omdat ek daar naby woon, en toe het AfriForum ingespring om bome te plant wat die projek verder laat groei het. Ons het ook die klimraam weer mooi gemaak."
Die parkie in Luscombestraat wat Afriforum vir die laaste jaar onderhou.
Die parkie het 'n groot transformasie ondergaan, en die kinders in die omgewing kan nou weer veilig en kaalvoet op die gras speel. Hy verduidelik dat die plan is om die parkies te onderhou en verdere opknappingsprojekte in ander parkies in die dorp aan te pak.
AfriForum doen 'n beroep op die gemeenskap om hande te vat met die inisiatief, aangesien arbeid 'n uitdaging bly. "Ons gesels met die munisipaliteit en voorsien die sproeiers, pype en nodige toerusting aan mense wat bereid is om te help. Ons spuit die onkruid, plant bome en sny die gras. Die doel is om hierdie ruimtes skoon en netjies te hou sodat die hele gemeenskap dit kan geniet en om 'n veiliger omgewing vir die gemeenskap kan skep."
Behalwe vir die parkieprojek het AfriForum ook 200m² se teer voor Langenhoven Gimnasium gegooi om daardie pad en hulle ingang te red.
Raak betrokke
Kleinhans nooi inwoners om by hul projekte betrokke te raak.
"Ons probeer die munisipaliteit ondersteun waar ons kan en verder probeer ons van die werk doen wat agter bly. Omdat ons gereeld met hulle vergader weet ons hulle het onoorkombare agterstande wat gemeenskapsbetrokkenheid gaan neem om te oorbrug," verduidelik hy.
Enigiemand wat betrokke wil raak kan Kleinhans by 083 375 8818 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’