OUDTSHOORN NUUS - AfriForum se Oudtshoorn-buurtwag het die afgelope week veiligheidsoudits by Laerskool Wesbank en Langenhoven Gimnasium uitgevoer as deel van pogings om die veiligheid by plaaslike skole verder te versterk.
Die veiligheidsoudit fokus op basiese, maar noodsaaklike veiligheidsaspekte soos omheinings, buitebeligting, toesigkameras en algemene toegangsbeheer.
Die doel hiervan is om skole te help om kwesbare areas te identifiseer en praktiese stappe te neem om dié tekortkominge aan te spreek.
Volgens AfriForum stel die oudit skole ook in staat om deeglike gebeurlikheidsplanne vir verskeie noodsituasies, insluitend brande, vloede, gewelddadige protesoptredes en selfs ontvoerings op te stel.
"Dit is van kardinale belang dat kinders in ons gemeenskappe in 'n veilige omgewing kan skoolgaan," sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
"Skole word dikwels as sagte teikens deur opportunistiese misdadigers beskou, en daarom is dit noodsaaklik om proaktief op te tree.
AfriForum se veiligheidsinisiatiewe fokus op die beveiliging van die gemeenskap as geheel en nie slegs woonbuurte nie," voeg hy by.
Volgens Donovan Kleinhans, voorsitter Afriforum se Oudtshoorn-tak, fokus hulle vanjaar op skole.
"Die hele skool hoef nie lid by AfriForum te wees nie, hierdie is 'n diens wat ons lewer om skole te help beveilig.
Die oudit help die skool om te bepaal hoe goed hulle skoolveiligheid in geheel is, en identifiseer areas waar ons hulle dan moontlik kan bystaan."
Volgens Kleinhans beplan hulle om nog skole vir die projek te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’