Update
OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van Dale Ronald Harmse (48), die Gautengse man wat 'n plaaslike sakeman na bewering uit meer as R500 000 geswendel het, het verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof begin.
Hy staan tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal. Hy het homself ook na bewering as 'n advokaat voorgedoen.
Adv. Riaan Pienaar, wat in opdrag van Metcalf & Kie prokureurs optree, het sy borgtogaansoek aan die hof voorgelees.
Volgens hom het hy 'n permanente adres in Pretoria, is hy getroud en woon hy saam met sy vrou en haar seun. Hy het ook sy eie besigheid PTN Legal Solutions a Division of Cape Epax Consultants (PTY) Ltd en sy vrou werk vir hom.Die besigheid staan tans stil en sy vrou verdien geen inkomste nie, omdat hy in aanhouding is.
Hy het ook erken dat hy 'n lang kriminele rekord het en dat hy tussen 1993 en 2006 verskeie kere tronkstraf en/of boetes opgelê is vir onder meer bedrog en diefstal en hy is in 2006 met vervalste geld betrap. Hy het, volgens die dokument, al die geld van die mense wat hy bedrieg het, terugbetaal.
Volgens dieselfde dokument verskyn hy ook in Mosselbaai in die hof, maar die klagtes teen hom is nog nie gefinaliseer nie.
Meriete van die saak
Volgens die dokument moes Harmse persoonlike sake tussen 'n sakeman en sy gewese lewensmaat oplos. Daar was onder meer klagtes dat die lewensmaat geld uit die sakeman se besigheidsrekening onttrek omdat sy tekenregte op die besigheid se rekening gehad het. Harmse moes help om die geld na 'n ander rekening oorgeplaas te kry sodat die besigheidsman se lewensmaat nie toegang daartoe het nie.
Volgens hom wou die sakeman ook Harmse se pa se eiendom koop en het hy R450 000, uit sy besigheid se rekening in Harmse se pa se rekening inbetaal. Ook die geld wat die besigheidsman Harmse geskuld het vir dienste gelewer is in die rekening inbetaal.
Volgens Harmse het die besigheidsman nie die geld in Harmse se besigheidsrekening betaal nie. Hy het ook later uitgevind dat sy vrou, stiefseun en pa se bankrekeninge deur die besigheidsman gevries is.
Volgens die dokument was die besigheidsman onder die indruk dat Harmse 'n advokaat is, maar Harmse sê dat hy homself nêrens aan die besigheidsman as 'n advokaat voorgestel het nie, maar dat die persoon wat hom aan die sakeman aanbeveel het gesê het dat hy 'n advokaat is.
Geen vlugrisiko
Volgens die dokument is Harmse nie 'n vlugrisiko nie. Sy advokaat het dit aan die hof gestel dat sy kliënt al sy vorige hofverskynings bygewoon het en dat daar geen rede is dat Harmse nie dié een sal bywoon nie.Volgens die dokument sal hy ook nie met die getuies inmeng nie en weet hy net wie een van die getuies is.
Hy is ook nie 'n gewelddadige man nie en ontvang tans behandeling vir bipolêre gedragsindroom en depressie.
Hy het ook tydens die ondersoek sy volle samewerking aan die polisie gegee. Hy het ook ingestem om sy paspoort in te handig.
Volgens die dokument sal hy R1 000 vir borgtog kan betaal.
Saak uitgestel
Die staatsaanklaer, Brandon Smit, het aangedui dat hy tyd nodig het om die nuwe inligting deur te gaan en die landdros het die aansoek tot 12 en 18 Maart uitgestel waar die staat hul saak aan die hof sal voorhou.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'