Update
OUDTSHOORN NUUS - Dale Ronald Harmse, die man van Pretoria wat na bewering homself as 'n advokaat voorgedoen het en 'n sakeman uit meer as R500 000 geswendel het, se borgtogaansoek is verlede Vrydag in Oudtshoorn-landdroshof voortgesit.
Die ondersoekbeampte, lt.kol. Max Mxabaniso het vir die staat getuig en aangedui dat hulle die aansoek ten sterkste teenstaan.
Volgens Mxabaniso is dit nie in belang van geregtigheid om Harmse op borgtog vry te laat nie omdat hy daaraan gewoond is om die tipe misdrywe te pleeg.
Hy het 40 vorige veroordelings van dieselfde aard teen hom.
Die aanklagte teen Harmse hou verband met bedrog, diefstal en geldwassery.
Volgens sy getuienis is Harmse ook die afgelope 10 jaar soek in Erasmia na hy daar op borgtog vrygelaat is en is daar 'n lasbrief uit vir sy arrestasie. Mxabaniso het egter erken dat, ten spyte van die lasbrief, Harmse steeds nie vir die saak in Erasmia in hegtenis geneem is nie.
Volgens hom het die staat 'n sterk saak teen Harmse en het hy ook geen bande in of om Oudtshoorn nie en is daar geen sekerheid dat hy sy hofdatums sal nakom nie.
Sy paspoort is ook nie ingehandig nie.
Mxabaniso het getuig dat Harmse glo homself al in vorige sake as advokaat verteenwoordig het en het hy in 'n gastehuis in 'n ander dorp ook as advokaat aangemeld.
Die staat glo ook dat hy met staatsgetuies sal inmeng en die eienaar van die adres waar hy sou tuisgaan indien hy borgtog sou kry, wil hom ook nie daar hê nie.
Sy is wel bereid om Harmse se vrou en haar seun te huisves.
Kruisondervraging
Advokaat Riaan Pienaar, Harmse se regsverteenwoordiger, het in kruisondervraging aangedui dat sy kliënt nie bande nodig het in die omgewing waar die misdrywe plaasgevind het nie.
Volgens Pienaar dra die klagtes teen sy kliënt nie water nie.
Mxabaniso het gesê dat Harmse gesê het hy is 'n "advocate at law". Volgens Pienaar beteken dit nie dat hy homself as 'n advokaat voorgedoen het nie.
"Net soos dit nie beteken dat iemand wat sê hy is 'n 'advocate for animals' beteken dat hy 'n regte advokaat is nie."
Volgens Mxabaniso se getuienis is daar 'n bedrag geld deur die sakeman in die besigheid se trustrekening inbetaal, maar dat dit nooit 'n trustrekening was nie.
Pienaar het dit egter aan die ondersoekbeampte gestel dat daar geen bewyse is dat Harmse gesê dat dit 'n trustrekening is nie omdat 'n trustrekening die besigheid se naam moet dra.
Die rekening waarin die sakeman geld betaal het was glo in die naam van P Harmse.
Die ondersoekbeampte sou 'n e-pos aan die hof wys waarin daar glo sou staan dat Harmse aan die sakeman gesê het dat dit 'n trustrekening is, maar hy het nooit die dokument voorgehou nie.
Pienaar het hom ook gevra hoekom die sakeman verskeie bedrae uit sy persoonlike rekening aan Harmse betaal het, maar die bedrag wat hy aan P Harmse oorbetaal het uit sy besigheid se rekening.
Die ondersoekbeampte kon nie die vraag antwoord nie. Volgens Pienaar kan die staat nie die klag van bedrog bewys nie en ook nie dié van geldwassery nie.
Mxabaniso het getuig dat hy ongeveer drie weke gelede besoek aan Harmse se vrou afgelê het en dat hy geweet het Harmse se paspoort is daar, maar dat hy dit nie geneem het nie.
Pienaar het verder gesê dat die sakeman reeds voor Harmse se arrestasie 'n interdik teen Harmse gekry het en dat Harmse tot dusvêr nog geen poging aangewend het om met die sakeman kontak te maak nie. Hy het aan die ondersoekbeampte gevra waarom Harmse nou sou kontak maak met die sakeman.
Mxabaniso het gesê dat iemand glo tok-tokkie by die sakeman se huis speel en sy huis met klippe gooi, maar dat daar geen bewyse is dat Harmse enige betrokkenheid daarby het nie.
Pienaar het verder gesê dat Harmse nog 'n alternatiewe adres in Silverton kan kry indien hy op borgtog vrygelaat word. Die borgtogaansoek sal vandag in die Oudtshoorn-streekhof voortgaan.
Vorige artikels:
- 'Advokaat' steeds in aanhouding
- Vermeende bedrieër wil nou borgtog hê
- Vermeende bedrieër in hof
- Man verloor R500 000
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'