OUDTSHOORN NUUS - Spazawinkels is nou reeds 'n geruime tyd in die nuus. In November is twee sulke winkels in Dysselsdorp gesluit nadat bevind is dat hulle nie aan die regulasies voldoen nie.
Die gesamentlike operasie is uitgevoer deur Oudtshoorn-polisie, wetstoepassing, die brandweer, asook die nasionale departement van landbou.
Met navraag aan Oudtshoorn-munisipaliteit noem Aurelia Mle woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, dat daar na beraming ongeveer 300 huiswinkels in die Groter Oudtshoorn gebied is.
"Sommige het goedkeuring gehad, maar slegs vir vyf jaar wat intussen verval het. Met ander woorde ongeveer 95% van die huiswinkels in Oudtshoorn is onwettig en moet die eienaars nou van vooraf aansoek doen om wettig handel te dryf."
Volgens Mle gaan daar 'n konsep huiswinkel verordening aan die Oudtshoorn munisipale raad voorgelê word. Hierna sal 'n publieke deelname proses volg en sal die finale konsep vir goedkeuring aan die raad voorgelê word.
"Alle huiswinkelaansoeke wat ontvang word sal eers verwys word na die plaaslike polisie, SARS, binnelandse sake en die Eden departement van gesondheid vir kommentaar. Negatiewe kommentaar wat ontvang word sal in 'n baie ernstige lig hanteer word. Verder sal alle huiswinkelaansoeke ook streng ooreenkomstig die huiswinkel verordening, sowel as stadsbeplanningbeginsels soos voorgestel in die ruimtelike grondgebruik beplanningsbestuurswet evalueer word."
Bestaande huiswinkels wat nie goedkeuring ontvang nie sal oorhandig word vir verdere regstappe ten einde sodanige huiswinkels summier toe te maak per hofbevel aldus Mle.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’