OUDTSHOORN NUUS - Die diefstal van kragpale in Dysselsdorp het 'n hartseer nadraai nadat 'n 9-jarige seun, Behaigo Lamini, Sondagmiddag, 19 April, doodgeskok is.
Behaigo het saam met vier maats in die veld in die koppe agter hul woongebied gaan speel. Hulle het op 'n afgekapte kragpaal, wat in die lug gehang het, afgekom.
Drie van die seuns het glo aan die afgekapte paal gehang wat steeds lewendige elektrisiteit gevoer het. Behaigo is op slag dood en die ander twee kinders is vir behandeling na die naaste hospitaal geneem.
Sindo Gertse (15) het brandwonde aan sy voete en hande opgedoen, terwyl die derde seun (10) glo steeds met 'n ernstige kopwond in die hospitaal is. Oudtshoorn Courant kon nie die derde seun se ouers opspoor nie.
By navraag het sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoord-voerder, die voorval bevestig.
"Dysselsdorp-polisie ondersoek tans die voorval nadat 'n seun ongeveer 13:25 doodgeskok is. Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek. Enige persoon met inligting oor die insident word gevra om kontak te maak met die polisie."
Oudtshoorn Courant was Maandagmiddag by Behaigo se moeder, Juliana Lamini (29).
"Hy was vinnig by sy ouma se huis, sy het nog vir hom 'n R5 gegee vir lekkers, en hy is saam met sy maats weg. Dit was nie snaaks nie, omdat hy altyd buite saam met sy maats was, hy was 'n kind wat lief was vir speel."
Sy vertel dat sy kort voor 14:00 deur mense geroep is.
"Ek kon nie lekker verstaan hoekom hulle my soek en wat aangaan nie, ek moes toe hoor my kind is doodgeskok. Ek is na die toneel en dit is nie 'n gesig wat enige ouer wil sien nie."
Lamini was sigbaar ontsteld en het deur haar trane vertel dat sy nie sin kan maak van die voorval nie.
"Ek kan nie verstaan wat hulle laat besluit het om aan daai paal te gaan hang nie, ek weet nie eers mooi hoe hulle daarop gekom het nie."
George Meyer, voorsitter van die Dysselsdorp-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF), het sy ongeloof oor die voorval uitgespreek.
"Die mense wat so Eskom-kragpale afkap en verkoop moet aan die pen ry. Ons kan nie toelaat dat die kriminaliteit voortduur in Dysselsdorp nie, want kyk wat het nou gebeur.
"Ek maan die inwoners van Dysselsdorp om na vore te kom en die mense se wandade aan die lig te bring sodat die gereg sy gang kan gaan."
Gemeenskapsleier, Leon Campher, is erg onthuts oor die voorval.
"Op die oomblik is dinge nog vaag, ek weet die een kind is nog in die hospitaal en die ander een is ontslaan, ek was in gesprek met sy ouers, en het hulle aangeraai dat volledige verklarings aan die polisie gemaak moet word."
Campher sê inwoners moet nie mense wat met onwettige bedrywighede besig is ondersteun nie.
"Ons sê elke dag dat gesteelde goed nie gekoop moet word nie. 'n Skelm het die kragpaal afgesaag en die tragedie veroorsaak, en 'n onskuldige kind moes met sy lewe daarvoor boet. Ek wonder hoe slaap daardie persone en die mense wat die pale by hulle aankoop. "
Behaigo laat buiten sy ma ook sy pa, Cameron, asook 'n 5-jarige boetie, Diego en sussie, Ava (9 maande) agter.
![]() Die afgesaagde ESKOM-kragpaal. Foto: Leon Campher | ![]() Sindo Gertse (15). Foto: George Meyer |
Behaigo se roudiens vind vandag, Donderdag 23 April van 12:30 tot 13:00 by die United Congregational Church in Dysselsdorp plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

