Update
OUDTSHOORN NUUS - Agt moorde in vyf maande. Dit is agt gesinne in die Oudtshoorn-omgewing wie se lewe omvêrgegooi is en wat sonder hul geliefdes moet leef.
Die nuutste twee moorde was die afgelope naweek waar twee mans in twee afsonderlike voorvalle vermoor is.
Dié moorde is slegs die moorde waarvan Oudtshoorn Courant bewus is.
Statistiek
Volgens 'n verklaring wat dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, die week uitgereik het is daar landwyd, in die eerste drie maande van die jaar, 6 289 moorde aangeteken teenoor 6 083 'n jaar gelede.
"Verlede jaar is 27 066 mense vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Daar is meer as drie moorde elke uur van die dag en nag in Suid-Afrika," lui die verklaring.
Volgens hom is 872 van die 6 289 moorde van Januarie tot Maart vanjaar vigilante-moorde en boendoehof-geregtigheid. "Dit dui daarop dat die publiek die polisie al hoe minder vertrou en toenemend die reg in eie hande neem."
Moorde in Oudtshoorn-omgewing
Die eerste moord waarvan Oudtshoorn Courant bewus geword het, was die moord op Jacques Liebenberg (24) op 12 Januarie. Hy is na bewering deur sy stiefbroer, Herman Redelinghuys, en twee ander mans, Abraham Swartbooi en Adriaan Isaacs, vermoor.
Boutros May (29) is op 12 Februarie in Adderleystraat vermoor nadat hy die betrokke aand saam met vriende gaan kuier het. Felicia Stuurman is vir sy moord in hegtenis geneem.
Angelo Jansen is 5 Maart doodgesteek. Een persoon is vir sy moord in hegtenis geneem. Op 12 Maart is Sereef Platjies (18) in die Askamp vermoor. Sy vermeende moordenaar is ook in hegtenis geneem.
Kort daarna, op 21 Maart, is Abraham Heradien (60) se liggaam in Francisco Erasmus se voertuig deur verkeersbeamptes gevind. Erasmus is kort hierna in hegtenis geneem.
Almay Hurling se geskende liggaam is op 3 April in haar huis in Bridgton ontdek. Sy is verskeie kere met 'n skerp voorwerp gesteek. Die verdagte wat vir haar moord in hegtenis geneem is, is onder polisiebewaking dood.
Isak Manie (49), is volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, Vrydagaand, 26 Mei, vermoor. Die polisie het hom op die toneel in Oklahomastraat, Rosebank met verskeie wonde aan sy lyf aangetref. Drie jong mense tussen 14 en 19 jaar oud is vir sy moord in hegtenis geneem.
Francois Plaatjies (32) is Sondag 28 Mei in sy nek gesteek.
Volgens Spies het die voorval op sy besigheidsperseel in 6de Laan, Bongolethu plaasgevind. 'n 28-jarige is vir sy moord in hegtenis geneem.
Die verdagtes behoort die week in die hof te verskyn.
So sê die polisie
Spies het diè week in 'n verklaring bevestig dat daar in al die voorvalle, verdagtes gearresteer is. "Intussen het die Oudtshoorn-polisie ook gehoorgegee aan die oproep vir die uitvoering van hoëdigtheid-operasies wat spesifiek gemik is op misdaadvermindering, -bekamping en opsporing. As deel van hierdie bedrywighede, in al ons sektore, het ons elke Donderdag tot Sondag onlangs geïntegreerde bedrywighede versterk wat padblokkades, voertuigkontrolepunte, stop-en-soek-punte, opspoorbedrywighede, aanvalle op onwettige sjebiens en inspeksies by wettige drankafsetpunte insluit."
Volgens hom fokus die lede veral op gevaarlike wapens, onwettige vuurwapens, dwelms, onwettige goedere en noodsaaklike infrastruktuur.
So sê Oudtshoorn Community against Crime
Dié organisasie is deur gemeenskapsleier Leon Campher gestig om families wat geliefdes aan moorde verloor het, by te staan. Lede verbonde aan die organisasie het hulle ook daartoe verbind om die polisie te help om misdaad in die gemeenskap hok te slaan.
Volgens Campher is dit elke gemeenskapslid se plig om misdaad aan te meld.
"Ons gaan dit nooit kan stop as die gemeenskap nie help nie. Meld dit aan by die polisie of by buurtwag organisasie en werk saam met die polisie."
Campher sê dit gebeur te veel dat lede teen die polisie wil werk.
"Die beamptes wil die skuldiges arresteer, maar gooi hulle met klippe sodra hulle wil optree. Hulle skel en vloek, jaag die polisie weg, en verwag met daardie houding steeds dat die polisie hulle moet beskerm. Die kinders begin dit ook doen, want hulle leer daardie gedrag by die grootmense wat veronderstel is om voorbeelde te wees."
Campher sê hy doen 'n beroep op almal om saam met die polisie te werk.
"Jy kan die verskil wees, jy moet net wil. Om te kla oor iets sonder om te probeer om iets daaraan te doen, gaan niks help nie."
Verwante artikels:
- Beweerde moordenaar vra sielkundige hulp
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Verdagte sterf na selfdoodpoging
- Saak teen Sydney Berry vir uitspraak uitgestel
Almay Hurling - Oorlede: 3 April
Abraham Heradien - Oorlede: 21 Maart
Angelo Jansen - Oorlede: 5 Maart
Isak Manie - Oorlede: 26 Mei
Jacques Liebenberg - Oorlede:12 Januarie
Sereef Platjies - Oorlede: 12 Maart
Francois Plaatjies - Oorlede: 28 Mei
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’