Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verdagte, Allister Wanie (32), wat van die grusame moord op Almay Hurling (21) verdink word, is Dinsdag 11 April, na 'n selfmoordpoging in George-hospitaal oorlede.
Wanie was ten tyde van sy dood 'n munisipale werker.
Na wat verneem word, het Wanie ook Almay se roudiens verlede Saterdag bygewoon en was hy bekend aan haar.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Wanie verlede Saterdag voor sy arrestasie na bewering 'n gifstof gedrink waarna hy in die George-hospitaal opgeneem en onder polisiebewaking geplaas is.
"Die lykskouing om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal is reeds gedoen. Die uitslae word afgewag en vorm deel van die polisie se ondersoek. Die moordondersoek van Almay gaan ook voort," sê Spies.
Wydverspreide inskrywings op sosiale media het aangedui dat Wanie hom glo self aan die polisie oorgegee het, maar dit kon nie deur die polisie bevestig word nie.
Die moord op Almay het landwyd opslae gemaak en die Oudtshoorn-gemeenskap geruk en familie en vriende in rou gedompel. Haar liggaam is op 3 April in haar ouerhuis in Bridgton met veelvuldige steekwonde gevind. Volgens Spies is sy op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Oudtshoorn-munisipaliteit
Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn, het in 'n persverklaring wat op 11 April vrygestel is gesê dat dit aan hom oorgedra is dat die verdagte wel 'n munisipale werker is. Hy het ook gesê dat hulle nie die ondersoek op enige manier wil belemmer nie, maar dat hy kan bevestig dat die verdagte wel in die hospitaal onder polisiebewaking is nadat hy probeer het om selfdood te pleeg.
"Ons sal die SAPD in enige manier moontlik bystaan om die ondersoek sy gang te laat gaan. Ons wil ook ons meegevoel uitspreek teenoor elke persoon wat geraak is deur hierdie verskriklike tragedie waarin 'n jong vrou haar lewe verloor het," lui die verklaring.
In 'n persverklaring wat later dieselfde middag deur Macpherson uitgereik is, bevestig hy dat die munisipale werker vroeër die dag in die George-hospitaal oorlede is. "Dit was 'n traumatiese week vir almal wat deur die dood van die slagoffer sowel as die verdagte geraak is. My wens is dat diegene wat deur hierdie tragedie beïnvloed word, afsluiting kan vind," sê Macpherson.
Kranslegging en roudiens
'n Kranslegging is verlede Donderdag in die straat voor Almay se ouerhuis gehou. Die roudiens het Saterdag 8 April in die AGS plaasgevind en is deur familie en vriende van sover as die Langkloof en die Kaap bygewoon. "Ek het daar gehoor dat Almay se naam 'justice' beteken, en dat haar engel-nommer 21 is wat beteken 'transitioning into a higher place'," sê Lizette Hurling, enkelouer van Almay.
Lizette vertel dat sy die Maandag van die moord nog by die werk was toe die stasiebevelvoerder vir haar sê dat daar iets by die huis gebeur het en sy huis toe moet gaan. Lizette het gedink dat daar iets met haar ma gebeur het en vertel sy dat die stasiebevelvoerder ook nie geweet het wat fout was nie. Toe sy by die huis kom was die straat vol ambulanse, forensiese- en polisievoertuie. Haar ma en broer het toe die verskriklike nuus aan haar oorgedra.
"Dit was 'n groot skok vir ons gewees," vertel Lizette.
Die kranslegging wat vir Almay gehou is het voor haar ouerhuis plaasgevind. Foto: Sonia Wahl
Almay word deur haar ma as 'n stil en eenkant persoon, wat baie van lees gehou het, beskryf. Volgens Lizette was haar algemene kennis besonders goed en was haar woordeskat van so 'n aard dat sy altyd by Almay moes aanklop vir sekere woorde se betekenis.
"Almay se wysheid van die lewe was ver bo haar jare, sy sou nooit enigiets slegs oor iemand sê nie. Sy sou nie wou hê dat ons met haat in ons harte rondloop nie," vertel Lizette. Haar familie en vriende vertel ook dat sy die lekkerste tee kon maak. "Ons sou haar vra om tee te gaan maak, dan het sy so lees-lees die ketel aangesit, en wéér die ketel aangesit, en wéér 'n bietjie gelees," vertel Estelle Blaauw, haar tannie.
Lizette, wat steeds deur haar familie en vriende ondersteun word sê dat sy jammer voel vir die moordenaar se moeder, "ek wil hê sy moet weet dat ons nie vir haar kwaad is nie".
Almay word Donderdag veras. Haar familie sal tydens 'n privaat diens haar as in die natuur strooi. Volgens Almay se familie was sy 'n persoon wat vry was van 'wêreldse dinge'.
"Ek wil vra dat elke jongmens hul lewe aan die Here moet gee, jy weet nooit wanneer dit jou laaste dag op aarde is nie," sê Lizette.
"Ek wil ook net dankie sê aan die Oudtshoorn-polisie, die ambulansdienste, my vriende en kollegas wat my nog nie vir 'n oomblik alleen gelos het nie. Dankie vir al die blomme en handdrukke - ek ken nie almal se name nie."
Almay word deur haar broer (24) en moeder oorleef.
Allister Wanie
Vorige artikels:
- Hurling-moordverdagte glo oorlede
- Hurling-moordverdagte inhegtenis geneem
- Moord op 21-jarige in ouerhuis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’