CALITZDORP NUUS - Boplaas Familie Wingerde het Vrydagaand tydens die jaarlikse Michelangelo International Wine & Spirit Awards sewe medaljes - waarvan een 'n gesogte Dubbelgoud - ontvang.
Volgens Boplaas se keldermeester, Carel Nel is die groot aantal medaljes wat Boplaas ver-
ower het des te meer 'n prestasie as die grootte van die kelder vergelyk word met ander inskrywings. "Boplaas is klein in vergelyking met die bedryfsreuse teen wie hulle meeding en met kleiner begrotings van kleiner plase, is daar nie plek vir foute nie."
Hy beskryf vanjaar se kompetisie as die strafste een die afgelope 21 jaar met meer as 1 600 inskrywings.
Die Michelangelo Dubbelgoud is toegeken aan die Boplaas Gamka 2015, 'n rooi versnit van Touriga Nacional, Tinta Barocca, Touriga Francesa en Shiraz. Hierdie wyn het ook onlangs 91/100 by die invloedryke VK-gebaseerde Master of Wine (MW) Tim Atkin ontvang; die Dubbelgoud by die 2017 National Wine Challenge/Top 100 SA Wines verower en is aangewys as 'n Top-10-wyn by die CAPPA Challenge.
'n Ander CAPPA Top-10-wyn, die Boplaas Touriga Nacional 2015, het goud ontvang.
Michelangelo Goud is ook toegeken aan drie Boplaas portstyl wyne - die Cape Vintage Reserve 2013, 'n SA Jongwynskou-kampioen en 'n gunsteling by die Wine of the Month Club; die Cape Vintage Reserve 2014 en die Boplaas Tawny, klaswenner by die CAPPA Challenge en 'n Platter's Guide 4½ ster-wyn.
Om Boplaas se prestasies af te rond, is nog twee goue medaljes - een vir die 20 Year Old Potstill Brandy en nog een vir die Boplaas Craft Gin - toegeken. Boplaas het 'n distilleringsge-skiedenis wat van 1880 strek. Van November sal die distillering van Boplaas se wêreldklas whisky, -brandewyn en -jenewer na die volgende geslag oorgedra word en onder die sorg van Carel se seun, Daniel, val. Hy is na sy groot-oupagrootjie vernoem, wat reeds in 1880 brandewyn na Londen uitgevoer het.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Karoo nuus'