Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n 62-jarige vrou van Oudtshoorn vrees vir haar lewe na sy verlede Donderdagaand deur twee mans in haar huis aangerand en met die dood gedreig is.
Die twee mans het ook juwele, haar handsak met ondermeer haar identiteitsdokument en bankkaarte gesteel waarna hulle met haar motor gevlug het.
Die voorval het in 'n woonstel in St. Georgesstraat gebeur.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die mans, onderskeidelik 25 en 33 jaar oud, dieselfde dag in hegtenis geneem.
Hulle ondersoek klagtes van huisroof, diefstal van 'n motorvoertuig asook twee ekstra klagtes van diefstal vanuit 'n voertuig omdat die verdagtes vermoedelik by nog twee voertuie in dieselfde kompleks ingebreek het.
Die vrou se motor is teruggevind.
Ruan Nel en Rainier Claassen het Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en het gister om borgtog aansoek doen.
Die vrou se naam is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar word weerhou omdat sy steeds vir haar lewe vrees.
Volgens die vrou, wat onlangs ook 'n heupvervanging gehad het, het sy reeds geslaap toe sy Donderdagaand wakker skrik met 'n man wat bo-oor haar staan.
"Hy het 'n koplampie opgehad en het die lig in my oë geskyn sodat ek nie kan sien wie hy is nie. Hy het die lelikste woorde gebruik en heeltyd vir my gesê hy soek my goud, waar is die goud?
"Ek het probeer verduidelik dat daar nie goud is nie, maar hy wou nie luister nie. Hy het my eers met die duvet en toe met die kussing probeer versmoor."
Volgens haar kon sy daarin slaag om haar kop te draai en het toe gesien dat die man haar baadjie aan het.
"Hy het my PIN vir my bankkaarte gevra en gesê hy gaan my kom dood maak as ek die verkeerde kode gee. Ek het toe vir hom die regte kode gegee. Hy het gesê hulle is meer as een en een van hulle gaan in die sitkamer wag, ek mag nie beweeg nie.
"Hy het toe weer gesê as hulle nie die geld kan trek nie gaan hulle my dood maak. Toe hy uit die kamer uit is het ek die bedliggie aangesit.
"Hy het omgedraai en die bedlamp stukkend geslaan en my 'n klap in my gesig gegee. Ek het gehoor hulle is uit by die deur, maar ek het geweet ek kan nie in die bed bly lê nie.
"Ek moet hier uit. As daar nou 'n skelm in die sitkamer sit en wag dan moet ek hom maar face.
"Die vreemdste van als was dat ek nie eens die seer aan my heup gevoel het nie. Al waaraan ek kon dink was dat ek uit die huis moet kom. Ek is net dankbaar dat hulle my nie verkrag en doodgemaak het nie."
Volgens die vrou het sy 'n spaarsleutel in die huis gesoek en is toe uit by die deur. Niemand het vir haar gewag nie. Sy het by haar bure om hulp gaan vra.
"Toe ek buite kom besef ek eers dat my kar weg is. Hulle het die kompleks se hek afgebreek en is weg met my kar. Dit is toe dat ek besef dat hulle waarskynlik eers by my kar ingebreek het, want my woonstel se ander sleutel lê in die kar. So hulle moes daardie sleutel gebruik het om by die woonstel in te kom."
Die vrou sê sy is bang dat die boewe sal terug kom om haar dood te maak.
"Hulle kon nie geld uit my rekeninge trek nie, want om een of ander rede het die OTM waar hulle was afgegaan.
"Ek is net so hartseer oor my juwele. Alles was nie eers waardevol nie, maar ek het sentimentele waarde aan van die items gehad.
"Ek het een hangertjie in Griekeland gekry. Ek wens so ek kan minstens net dit terugkry."
Sy het verder gesê sy hoop nie dat die twee mans borgtog toegestaan word nie.
"Dit wat hulle aan my gedoen het wens ek vir niemand toe nie. Ek kan nie eens vir iemand beskryf wat presies op daardie oomblik deur my kop gegaan het nie."
Lees 'n vorige artikel: 62-jarige vrou in haar huis aangerand
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'