OUDTSHOORN NUUSFLITS - 'n 62-jarige vrou van Oudtshoorn vrees vir haar lewe na sy verlede Donderdagaand deur twee mans in haar huis aangerand en met die dood gedreig is.
Die twee mans het ook juwele, haar handsak met ondermeer haar ID-dokument en bankkaarte gesteel waarna hulle met haar motor gevlug het.
Die voorval het in 'n woonstel in St. Georgesstraat gebeur.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die mans, onderskeidelik 25 en 33 jaar oud, dieselfde dag in hegtenis geneem.
Hulle ondersoek klagtes van huisroof, diefstal van 'n motorvoertuig asook twee ekstra klagtes van diefstal vanuit 'n voertuig omdat die verdagtes vermoedelik by nog twee voertuie in dieselfde kompleks ingebreek het.
Die vrou se motor is terug gevind.
Ruan Nel en Reinier Claassen het Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en sal Donderdag om borgtog aansoek doen.
Die vrou se naam is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar word weerhou omdat sy steeds vir haar lewe vrees.
Volgens die vrou het sy reeds geslaap toe sy Donderdagaand wakker skrik met 'n man wat bo-oor haar staan.
"Hy het 'n kop lampie opgehad en het die lig in my oë geskyn sodat ek nie kan sien wie hy is nie. Hy het die lelikste woorde gebruik en heeltyd vir my gesê hy soek my goud, waar is die goud?
"Ek het probeer verduidelik dat daar nie goud is nie, maar hy wou nie luister nie. Hy het my eers met die duvet en toe met die kussing probeer versmoor."
Lees meer in Vrydag se koerant, asook aanlyn.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'