Update
OUDTSHOORN NUUS - As mense hierdie week onder die indruk was dat 'n film wat in die vroeë 1900's afspeel, in die dorp gemaak word, is dit heeltemal verstaanbaar.
Die Ford veteraan- en Noagtoer, waaraan die grootste versameling Ford-voertuie ooit deelneem, was vandeesweek in Oudtshoorn tuis, vanwaar hulle elke dag 'n ander bestemming besoek het.
Die Ford-toer vind plaas op die vooraand van die George-oumotorskou wat môre en Sondag vir die 22ste keer deur die Suid-Kaap Oumotorklub aangebied word.
"Altesaam 52 veteraan- en Noagmotors het Dinsdagmiddag in Oudtshoorn aangekom en die sowat 100 deelnemers bly almal in die Oudtshoorn Inn Hotel," sê Philip Kuschke, toerorganiseerder.
Die oudste voertuig wat aan die toer deelneem behoort aan Ali van Jaarsveld van Johannesburg wat in haar 1908 Ford S-model deelneem.
Sy het die voertuig op 'n sleepwa na die Suid-Kaap gebring, maar neem vanaf George, waar die toer Dinsdagoggend begin het, deel in die besondere voertuig, waarvan die topspoed sowat 45 km/h is.
Volgens Kuschke besluit deelnemers hoe vinnig hulle kan ry. "Die voertuie het nie spoedmeters nie, dus moet die navigator op 'n horlosie tydhou en die wit strepe of mylpale langs die pad tel om te bepaal hoe vinnig die voertuig ry."
Die voertuie, waarvan die meeste ouer as 100 jaar is, gebruik loodvrye brandstof, maar 'n bymiddel word bygevoeg om die enjin te beskerm.
Die toerlede het Woensdagoggend na Zoar vertrek, waar die gemeenskap vir hulle middagete in die saal by die sportterrein voorgesit het.
"Daarna ry ons deur Zoar en Amaliënstein en gaan daarna Seweweekspoort verken," het Kuschke Woensdag gesê.
Die dag is met 'n skemerkelkie by Oudtshoorn Ford afgesluit om die handelaar se 98ste jaar in die dorp te vier.
Gisteroggend het die groep die Kango-grotte besoek, en op pad terug na Oudtshoorn by Buffelsdrift Game Lodge vir middagete aangedoen.
Die toer se afsluitingsfunksie was 'n gala-dinee wat gisteraand in die Oudtshoorn Inn gehou is.
Die groep het vanoggend via die Robinsonpas na George vertrek waar hulle omstreeks 16:00 sal aankom.
Die voertuie, net so vol stof van die grondpaaie wat hulle rondom Oudtshoorn gery het, sal saam met sowat 900 ander ou voertuie by die oumotorskou ten toon gestel word.
Lees 'n vorige artikel: Veteraanmotors 3 dae in Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'