OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is die eerste week van Februarie die fokuspunt van die grootste Veteraan- en Noag-toer die afgelope 35 jaar.
Ongeveer 50 veteraanmotors, wat 38 Fords insluit, kom op 5 Februarie in Oudtshoorn aan vanwaar hulle oor die daaropvolgende drie dae verskeie roetes gaan aanpak.
Die toer begin Dinsdag 6 Februarie om 10:00 by die Garden Route Mall in George.
Die roete volg die R102 verby die George-lughawe, oor Robinsonpas en Volmoed na Oudtshoorn, wat die toerbasis vir drie dae sal wees.
Op Woensdag 7 Februarie ry die groep oor die Huisrivierpas na Ladismith en deur Seweweekspoort terug na Oudtshoorn.
Donderdag word in en om Oudtshoorn deurgebring met besoeke aan die Kango-grotte en Buffelsdrift Game Lodge.
Om 17:00 vier die groep die Ford-handelaar op Oudtshoorn se honderdjarige bestaan by sy motorhawe met ‘n heerlike skemerkelkie.
Die publiek is welkom om die ou motors daar te besigtig.
Die prysuitdeling waartydens die wenner van die toer aangewys word, word ook Donderdagaand gehou.
Die tema van dié gala-geleentheid is, ‘Die Goue Era van die Volstruisbedryf’ wanneer toerlede in aanddrag uit die vroeë twintigerjare, toe volstruisvere duurder as goud was, dié spoggeleentheid sal bywoon.
Die toer eindig op Vrydag 9 Februarie as die groep uit Oudtshoorn vertrek en via die Robinsonpas na PW Botha-kollege in George ry.
'n Pragtige 1914 Model-T Ford. Eienaar: E Kuschke
Die motors word by PW Botha-kollege gehou en sal net so ongewas, soos wat hulle na die toer daar uitsien, tydens die oumotorskou op 10 en 11 Februarie uitgestal word.
Die 2018 George-oumotorskou vind plaas by die PW Botha-kollege. Spesiale toegangskaartjies vir die naweek of dagkaartjies kan aanlyn bekom word op die webblad www.scocc.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'