OUDTSHOORN NUUS - In Julie 1968 word daar in die Oudtshoorn Courant oor die dorp se ekonomie besin, daar is 'n verwysing na bruin mense se gedwonge verskuiwing uit die dorp, strate word verbreed en hervernoem; die aantal ongelukke was toe reeds rede tot kommer en die minister van sport betreur die land se skorsing uit die Olimpiese spele.
3 Julie 1968
Om plaaslike grensnywerhede aan te moedig, sal die munisipaliteit voordele toeken aan besighede wat hulle by die munisipaliteit laat registreer. J J Raubenheimer is bekommerd oor nywerhede wat beplan om na die meer strategies geleë George, te verhuis. Oudtshoorn moet sy inkomste uit die binneland en uit ander bronne gaan haal en om die rede is die Afdelingsraad se verbreding en teer van die pad deur Meiringspoort so belangrik so ook die pad na Willowmore en ander buurdorpe.
Minister Chris Heunis open 'n ateletiekafrigtingskursus en spreek tydens sy toespraak sy spyt uit oor die feit dat SA weens sy apartheisbeleid uit die Olimpiese Spele verban is. Ten spyte van hierdie teleurstelling moedig hy die jeug aan om hulle atletiekprestasies steeds te verbeter om die wêreld se verbeelding aan te gryp.
SA Polisie maak die publiek bewus van die heersende gebrek aan padveiligheid. Daar was in April en Mei 212 ongelukke in die distrik wat tot Heidelberg strek. Twaalf van die ongelukke was noodlottig en 59 mense is beseer. Oorsake is onder andere onbedagsaamheid, roekelose bestuur; spoed en onoplettendheid.
6 Julie 1968
Mnr. Hekkie Jonker, verbonde aan die behuisingsafdeling van die munisipaliteit, berig dat die verskuiwing van die bruinmense uit die dorp sy laaste fase bereik het Die laaste van die 252 sub-ekonomiese huise is voltooi. Hy is egter bekommerd oor die skoliere wat nou verder skool toe sal moet stap, omdat die skole nog binne die dorp geleë is.
Mnr. DJ van Zyl Smit 'n bekende landboukundige gee interessante feite oor volstruise. Hy vertel dat eeue se genadelose jag van volstruise die spesie byna uitgeroei het in dele van Afrikam die Midde-Ooste en Persië waar vere uiters waardevol was. In 1775 het 'n Sweedse wetenskaplike en reisiger aan die Kaap die teenwoordigheid van volstruise in sy dagboek aangeteken.
Van volstruisboerdery was daar toe nog nie sprake nie. 'n Bietjie minder as 100 jaar later het die volstruisbedryf in ons land posgevat.
In 1865 was daar 80 mak volstruise, in 1875 groei dit na die 22 247, twintig jaar later in 1895 is die getal 253 500 en toe die bedryf in 1910 sy hoogtepunt bereik het, was daar 746 736.
Na die ineenstorting in 1914 en die geleidelike herstel daarna staan die getal in 1967 op 60 000 volstruise. In 1860 het een pond vere R16,80 behaal In die maer jare was dit 82c per pond en vandag in 1968 behaal 'n pond vere R10.
10 Julie 1968
Die amptelike opening van Langenhovenweg, vroeër Georgeweg, sal die volgende dag om 4nm plaasvind daar waar die pad by Verwoerdplein (die huidige munisipale kantore) begin. Die ingang na die dorp vanaf George, is nou verbreed en die brug oor die spoorlyn was ook deel van die werk wat deur die kontrakteur Clifford Harris gedoen is. Die Dorpsraad het R12 000 begroot om Parkweg vanaf die Wesbank skool tot by Albertstraat te teer en wyer te maak.
(Hilda Boshoff, is terug van haar besoeke aan die buiteland en sal weer op gereelde basis in die argiewe deur uitgawes van die Oudtshoorn Courant van 50 jaar gelede blaai om lesers 'n kykie in die verlede te gee.)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'