OUDTSHOORN NUUS - 50 Jaar gelede in Oudtshoorn - Augustus 1968
Sommige planne en drome van die voorspoedjare 50 jaar gelede, het waar geword terwyl sommige nooit gerealiseer het nie. Ons lees ook van onbesonne tienerstreke op 'n Sondagnamiddag wat tragiese nagevolge kon hê.
17 Augustus 1968
Tenders is aangevra om 'n nuwe hoërskool in Calitzdorp te bou. Die huidige skool is in 1912 gebou op grond wat destyds deur mnr. JSF Brink geskenk is. Die onderhoudskoste van die ou gebou raak te hoog. Die nuwe skool sal langs die 1912-skoolgebou opgerig word waarna die ou skool gesloop sal word.
Die stadsraad wil die Grobbelaarsrivier se oewer verfraai. Die burgemeester JJ Raubenheimer en die stadsklerk mnr. MCT Schultz wil gras aanplant, rusbanke aanbring en 'n wandelpad al langs die rivier uitlê. Daar sal met die Onderwysdepartement onderhandel moet word, aangesien groot dele van die oewergebied aan die Onderwysdepartement behoort.
'n Nuwe hoërskool vir die inwoners van Oudtshoorn-Noord word in Queenstraat (vandag Baron van Reedestraat) beplan. Mnr. R de Villiers, sekretaris van die skoolraad sal 'n geskikte perseel van ongeveer 10 morg soek.
21 Augustus 1968
Biskop Bruno Hippel van die Katolieke Kerk in Oudtshoorn het 'n ope hartoperasie in die Groote Schuur Hospitaal ondergaan. Dr. Marius Barnard is baie tevrede met die afloop van die operasie wat van 8:00 tot 14:00 geduur het. Biskop Hippel het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat aan hom gedink het en hom beterskap toegewens het.
24 Augustus 1968
Die begeesterde 73-jarige NA Smit, voorsitter van die plaaslike CP Nel-museum se Trusteeraad, is vasberade om binne 5 jaar sy droom om die ou Hoër Seunskool in 'n kultuur- en kunssentrum te ontwikkel en as 'n nasionale monument te laat verklaar, te verwesenlik. Die gebou is 'n puik voorbeeld van die sandsteenargitektuur en behoort saam met die Kango-grotte, die hangbrug en Pinehurst die dorp se hoofbesienswaardighede te word. Die
C P Nel-museum op die hoek van Hoog- en Loopstraat gaan na die ou seunskool verskuif word. Die koshuis op die hoek van die gebou gaan gesloop word en 'n mooi tuin gaan voor die gebou aangelê word. Die fokuspunt van die uitstallings sal die volstruis- en die tabakbedryf wees. Hy hoop ook om oorsese kuns in die gebou uit te stal. Vir die restourasieproses word R40 000 benodig waarvan hy al R2 200 ingesamel het.
28 Augustus 1968
Twee leerlinge van die Hoër Tegniese Skool, Aubrey Thompson (16) van Knysna en Andries van Zyl van Nababeep is Sondagnamiddag beseer toe hulle in die militêre oefenveld van Kommandement Suid-Kaapland, gaan rondstap het en vermoedelik 'n bom hanteer het. Die bom het in die lug ontplof. Hulle is dieselfde aand nog per ambulans na Kaapstad vervoer. Thompson het gesigsbeserings opgedoen en 'n stuk van die bom het sy bors binnegedring en in sy long vasgesteek. Van Zyl het armbeserings opgedoen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'