OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bridgton op Oudtshoorn, wat petrol op 'n man gegooi en hom aan die brand wou steek, is in die Oudtshoorn-streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Justin Lewis (37) is daaraan skuldig bevind dat hy petrol op Edward Sheron gegooi het omdat sy vriendin na die klaer gehardloop het vir beskerming.
Lewis se weergawe dat hy Sheron net wou skrikmaak is deur die hof verwerp.
Volgens hom het hy nie vuurhoutjies by hom gehad nie en het Sheron gedreig om hom te skiet.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het met vonnisoplegging gesê Lewis is aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind en dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees sodat hy kan rehabiliteer en daarna weer sy plek in die gemeenskap kan inneem.
"Hy is spesiaal huis toe om die 2 liter petrol te gaan haal en hy het dus die doel gehad om die klaer aan die brand te steek. Hy was jaloers en kwaad," het die landdros gesê.
Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die vrou 'n interdik teen Lewis gekry omdat hy 'n bedreiging vir haar is.
Die hof het bevind dat 'n totaal opgeskorte vonnis, soos deur die verdediging versoek, 'n verkeerde boodskap sal uitstuur. "Jy kan nie dreig om iemand in sy eie huis aan die brand te steek en niks oorkom nie. Die soort kriminele gedrag kan nie geduld word nie," het die landdros gesê.
"Die beskuldigde is nie 'n eerste oortreder nie en as gekyk word na sy vorige veroordelings is dit duidelik dat hy geen respek toon vir mense se lewens nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'