OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Bridgton wat glo brandstof op 'n man gegooi en hom aan die brand wou steek, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van die beskuldigde en die slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak uitgestel.
Justin Lewis het glo op 15 September 2019 in Dikkoplaan, Bridgton, brandstof op Edward Sheron gegooi omdat sy vriendin by hom geskuil het. Lewis staan tereg op aanklag van poging tot moord.
Lewis pleit onskuldig en voer aan dat hy Sheron net wou skrikmaak toe hy 'n klein bietjie brandstof in sy rigting gegooi het. Dit was glo nadat Sheron gedreig het om hom dood te skiet.
Sheron het egter getuig dat dit 2 liter brandstof was en dat Lewis probeer het om 'n vuurhoutjie aan te steek toe die vrou hom met 'n koppie teen sy kop gegooi het. Volgens hom was die dreigement om hom te skiet net om Lewis bang te maak omdat hy lankal nie meer 'n vuurwapen in sy besit het nie.
Volgens Sheron wil die vrou niks met Lewis te doen hê nie en het sy Sheron om beskerming gevra.
Lewis het Maandag getuig dat hy nie vuurhoutjies by hom gehad het nie, maar onder kruisverhoor erken dat iemand kan sterf indien hy met brandstof aan die brand gesteek word.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir sy skuldigbevinding op die aanklag van poging tot moord gevra omdat hy spesiaal huis toe is om die brandstof te gaan haal. Volgens Smith het die klaer hom nie weerspreek nie.
"Indien die beskuldigde die klaer wou skrikmaak moes hy dit net gesê het en nie die petrol op hom gegooi het nie," het Smith betoog.
Lewis se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het betoog dat hy nie aan poging tot moord skuldig bevind kan word nie omdat sy weergawe redelik moontlik waar kan wees.
"Die feit dat hy terug is na sy huis om die petrol te gaan haal kan ook nie as selfverdediging beskou word nie. Hy kan wel skuldig bevind word aan aanranding gewoon," het Botha gesê. Die saak word deur streeklanddros Sylvia Mandla aangehoor en is vir uitspraak tot 15 September uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'