OUDTSHOORN NUUS - 'n 29-jarige man van Rosebank, wat twee vroue verkrag het, is die week in die streekhof gevangenisstraf van 40 jaar opgelê.
Hy het op 11 September 2023 sy 31-jarige stiefsuster in ‘n badkamer verkrag, en op 6 November 2023 ‘n 32-jarige wat hom goed ken het, agter ‘n taverne verkrag. ‘n Omstander het ‘n video-opname daarvan gemaak en dit op Facebook versprei.
Hy het onskuldig gepleit, maar Maandag vinnig 'n U-draai gemaak nadat die video aan hom vertoon is.
Sy halfsuster het getuig dat hy haar in die badkamer van haar ma se huis verkrag het. Hy het haar met 'n mes gedreig as sy enige geluid sou maak en ook dat hy haar sal doodmaak indien sy agterna vir enigeen daarvan sou vertel.
In die tweede geval het hy die vrou, wat toe al 12 biere gedrink het, na buite geneem en gesê dat haar ma haar kom haal het. Hy het haar egter agter die taverne ontklee en verskeie kere verkrag ten aanskoue van almal terwyl ‘n video-opname gemaak is.
Sy regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof vir versagting gevra omdat hy teen die einde tog skuldig gepleit en gesê het dat hy jammer is oor wat hy gedoen het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het egter betoog dat geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van lewenslange gevangenisstraf af te wyk nie.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging sy optrede as skokwekkend beskryf. Hy was uit op borgtog toe hy die vrou by die taverne verkrag het terwyl sy so dronk was dat sy nie geweet het wat rondom haar aangaan nie. Wat die verkragting van sy stiefsuster betref het die landdros gesê dit skokkend dat niemand van die familie, nie eers haar ma, haar wou glo nie.
Die beskuldigde is 15 jaar vir die verkragting van sy stiefsuster en, 25 jaar vir die verkragting van die vrou by die taverne opgelê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’