OUDTSHOORN NUUS - Feesgangers is al gewoond daaraan dat daar gereeld tydens die KKNK 'n vinnige donderstorm losbars of 'n fratswind huppel gou oor die feesterrein en waai al die stalletjies op 'n hoop.
Soms het palmbome ook al as gevolg van 'n KKNK-bliksemstraal in reusefakkels ontaard.
Vanjaar hoop Oudtshoorniete dalk in die stilte van hulle binnekamers vir 'n wolkbreukie soos die een van 2016 om uitkoms uit die droogte te bied.
Op die tweede dag van die fees in 2016 het byna 40 mm reën in slegs 30 minute geval.
Feesgangers wat op sypaadjies gestap het was skielik omring deur riviere wat in strate afgestroom het en die voetbrug tussen die rivierbuurt en die dorp was onder water. Motors en motorfietse het hulself skielik in enjindiep water bevind en Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat het tot stilstand gekom.
Een feesganger was gelukkig om nie ernstige beserings op te doen toe hy in die kniediep water op 'n sypaadjie in 'n oop mangat beland het nie.
Na die aanvanklike chaos en vere reg- en droogskud en stalletjies uitvee, het die fees weer aangegaan. Maar net nog 'n voorbeeld van hoe die KKNK hom nie van stryk laat bring nie.
'n Pa dra 'n kleuter deur die water net na die reënbui.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'