OUDTSHOORN NUUS - 'n 33-jarige man van Bongolethu is glo verlede week, 3 Januarie, deur vyf mans aangerand.
Die familie van Neville Stander het na die voorval 'n saak van aanranding en ontvoering by die Oudtshoorn-polisie aanhangig gemaak.
Volgens Nelly Crisp, Stander se ma, het die mans aan haar gesê dat hulle haar seun gaan doodmaak omdat hy steel.
Stander vertel dat hy die betrokke dag onderweg was vanaf sy ma se huis toe hy 'n krat wat langs die pad gelê het opgetel het. "Twee mans het my agterna gesit en ek het die krat gelos.
Hulle het my begin aanrand en het ek probeer weghardloop, maar 'n voertuig met nog drie mans het opgedaag. Hulle het my in die drie mans se voertuig se kattebak ingedwing en na 'n huis geneem waar die vyf mans my met 'n sambok, stokke en 'n yster aangerand het."
Hulle het, volgens Stander, die voorval glo verfilm en Stander gedwing om op video te erken hy het gesteel.
Shariefa Stalmeester, Stander se niggie sê sy gaan nie die kwessie hier laat nie. Die saak is by die Oudtshoorn-polisie aangemeld.
"Die persone is bekend aan ons, want dit is nie die eerste keer wat hulle vir Neville kom dreig nie. Hulle het nou al 'n paar keer by sy ma se huis opgedaag met dreigemente dat hulle hom gaan doodmaak."
Stander het kop beserings, asook verskeie wonde op sy lyf opgedoen.
Van die beserings wat Stander opgedoen het.Ao. Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê 'n saak van ontvoering en aanranding is geopen.
"Oudtshoorn-polisie dra nie kennis van die teistering waarna die familie verwys nie. Die saak word nog ondersoek en is daar geen arrestasies tot op hede gemaak nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’