OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof geweier aan 'n man van Bongolethu wat saam met nog twee beskuldigdes teregstaan op aanklag van roof met verswarende omstandighede.
Zicina Nceba (40) word saam met Philano Myo (25) en Simanye Innocent daarvan aangekla dat hulle op 20 September 2021 'n 18-jarige leerder helder oordag naby die Unieplein met 'n mes gedreig en van haar selfoon beroof het.
Hulle is egter kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem met die selfoon in Nceba se besit.
Nceba, met 'n ellelange lys van vorige veroordelings waaronder ontsnapping, het na 'n jaar en ses maande besluit om vir borgtog aansoek te doen.
Landdros Daniel Boks het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toegestaan word nie.
Die saak teen die drie is daarna in 'n ander hof deur streeklanddros Sylvia Mandla vir pleit en verhoor tot 11 Oktober uitgestel.
Myo en Innocent se borgtog is tot dan verleng.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’