OUDTSHOORN NUUS - Drie inwoners van Bridgton, Oudtshoorn het binne die bestek van twee dae hul lewens verloor toe hul opslaanhutte deur vlamme verwoes is.
Eerste brand
'n Ma en seun het laat Maandagaand, 2 Oktober, tragies omgekom toe hul opslaan-hut byna tot op die grond afgebrand het. Die oorledenes, Shirley Bezuidenhout (49), en haar seun, Warren Bezuidenhout (16), het op die erf van familielede ten tyde van hul ontydige afsterwe gewoon.
Een van die familielede, Caroline de Laan, vertel dat die Bezuidenhout-gesin alreeds
25 jaar op hul erf woon en het daar op 'n vorige geleentheid 'n brand by hul hut uitgebreek, wat gelukkig vinnig geblus is.
Die oorledene Shirley Bezuidenhout en haar dogter, Celay, tydens Aurial Kollege se matriekafskeid verlede week. Foto: verskaf
"Hierdie keer was dit heeltemal anders; alles het so vinnig gebeur. Die een oomblik het ek Warren se stem benoud hoor roep: 'Waar is die sleutel van die slot my Ma, dit brand hier binne. Help my!' Toe ek opstaan en by die huis uitkyk, het ek gesien dat die vlamme al by die hut se vensters uitkom. Terwyl ons water en sand in die hut gegooi het, het Warren se stem net stilgeraak," vertel 'n emosionele De Laan.
Volgens De Laan vermoed sy dat brandende kerse die oorsaak van die brand kon wees.
"Net verlede week het ek vir Shirley gevra of sy nie dalk eerder 'n elektriese kragdraad wil gebruik om elektrisiteit vanaf die hoofhuis na die opslaanhut te gelei nie. Sy het gesê nee, sy is gewoond aan kerse, en ek het dit toe maar daargelaat. Tydens die brand het ek glad nie Shirley se stem gehoor nie - ek vermoed sy het rook ingeasem terwyl sy geslaap het en waarskynlik in 'n koma gegaan. Ai, dis so wreed en hartseer hoe hulle die wêreld moes verlaat. Al wat ek oor en oor in my gedagtes hoor, is hoe angstig Warren geskree het."
Warren was ten tyde van sy afsterwe 'n leerder by Oudtshoorn Vaardigheidskool en sy suster, Celay Bezuidenhout (18) wat saam het hom in die opslaanhut gewoon het, 'n matriekleerder verbonde aan Aurial Kollege.
Bezuidenhout sê dat sy sedert haar matriekafskeid verlede Donderdag by haar tannie geslaap het. Dit is waar sy die tyding gehoor het.
"Ek het blitsvinnig en deurmekaar tot by ons huis gehol en heeltyd vir myself gesê dat indien hulle gesterf het, dit die wil van die Here is. Ek gaan my broer en my ma baie mis, vir die mense wat hulle binne en buite was. Net verlede week het ons as gesin nog my matriekafskeid gevier, en nou is hulle nie meer hier nie, verewig."
Sy beskryf haar ma as 'n baie liefdevolle, kunstige mens en haar broer, as 'n lewenslustige persoon wat altyd grappies vertel het.
Begrafnisreëlings sal, volgens die familie, eers teen die einde van die week gefinaliseer word.
Benewens lewensverlies, het die gesin letterlik alles in die brand verloor; van klere tot meubels tot strukture.
Vir enige hulp (kos insluitend) WhatsApp Bezuidenhout by 064 096 8871.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen is.
"Voorlopige verslae dui daarop dat die polisie na die toneel gestuur is. Met hul aankoms het hulle 'n opslaanhut gevind wat afgebrand het. Die liggame van twee slagoffers is onder die puin gevind. Die oorsaak van die brand moet nog vasgestel word. Oudtshoorn-speurders ondersoek die saak en die ondersoek duur voort," lui die verklaring.
Van links is Muriel Conradie, Celay Bezuidenhout en Caroline de Laan.
Die gesin het letterlik alles in brand verloor. Foto's: Wyndham Ewerts
Tweede brand
Brian Baartman (52) van Elandweg, Bridgton het Dinsdagmiddag, 3 Oktober, sy lewe verloor toe sy opslaanhut die middag deur vlamme vernietig is. Beide sy broers was op die toneel nadat die brand geblus is, en nie een kon verstaan hoe so iets helder oordag kon gebeur nie.
Koos Blaaw, een van Baartman se broers, bly self nie op die erf nie, maar was ingelig oor die brand kort nadat dit gebeur het. "Ek is dronkgeslaan. Ek het geen idee hoe so iets kon gebeur nie. Sommer in die dag," het hy gesê.
Volgens Blaaw het mense van die gemeenskap probeer help om die brand te blus totdat brandweerdienste op die toneel opgedaag het. "Ek weet nie hoe lank dit gevat het nie. Ek was nog so twee ure voor die brand daar, en alles was nog reg. Ek weet nie of Brian eers daar was nie," het hy duidelik ontsteld gesê.
Volgens Baartman se ander broer Douglas Baartman, wat huilend geskree het "my broer het hier uitgebrand, en ek weet nie hoekom nie!", het die twee saamgebly in die opslaanhut.
"Ek voel seer oor hom. Ek het hom liefgehad, ek het nog gisteraand vir hom gesê 'ek is baie lief vir jou'. Dis seker die woorde wat nou moes gekom het as dit nou met hom moes gebeur," het hy deur trane gesê. Hy het ook geen idee hoe die brand ontstaan het nie en was by die werk tydens die brand, waarna inwoners van die omgewing hom gebel het met die tragiese nuus.
"Hy moes nie doodgegaan het nie!"
Volgens Baartman (Douglas), het die twee broers slegs 'n kort tydjie saamgebly.
"My broer was 'n goeie man. Hy het elke dag werk toe gegaan. Al ons goed is nou weg, ek het niks oor nie en ek het my broer verloor. Hulle het hom in een hoek van die huis gevind."
'n Navraag oor die insident is aan die polisie gestuur, maar teen druktyd gister, Woensdag 4 Oktober, is geen terugvoer ontvang nie.
Warren Bezuidenhout Foto: Verskaf
Die binnekant van Brian Baartman van Elandweg, Bridgton se hut is heeltemal deur die brand vernietig. Foto: Stefan Goosen
Een van Brian Baartman se broers, Douglas Baartman staan voor die puin van die opslaanhut. Foto: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’