OUDTSHOORN NUUS - Om die Klein-Karoo op die rug van 'n Kaapse-ryperd te verken vat uithouvermoë, avontuurlus, asook fiksheid.
Celia le Roux van Oudtshoorn is bekend vir haar Karoo-toere op die rug van Kaapse-ryperde wat 'n opwindende geleentheid aan ruiters bied om twee bergreekse en valleie te deurkruis.
Buiten die asemrowende natuurskoon ervaar ruiters ook die gasvryheid van die Karoo en sy mense en kry die geleentheid om te proe en te smul aan plaaslike kos en wyn.
Le Roux verduidelik dat die roete van 150 tot 200 km oor sewe dae strek en verskeie terreine soos grondpaaie, plaaspaaie, voetpaadjies, vergete spore en selfs 'n ou Voortrekker- en handelsroete insluit.
"Ons begin aan die voet van die Swartberge, steek die Klein-Karoo oor, deurkruis die Kammanassieberge en reis deur die Langkloof, oor die Outeniquaberg en verder na die kusvlakte, waar ons op 'n oënskynlik eindelose strand eindig. Ons gebruik Kaapse-ryperde, wat die voorouer is van die boerperd, 'n erkende ras in Suid-Afrika.
"Die perde is bekend vir hul uitstekende temperament en vasberadenheid. Ons is tussen vier tot ses ure per dag in die saal. Dit is nie 'n wedloop nie en almal ry teen hul eie pas. Ons neem gewoonlik tussen ses tot 10 ruiters op die uithourit."
Die roete begin by Doornkraal-plaas waarna daar na Wildkamp in die Kammanassieberge gery word.
Van die Kammanassie-plaas ry die ruiters na Herold, Hoekwil en eindig dan by Glentana, waarna elkeen dan weer na sy eie bestemming terugkeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’