OUDTSHOORN NUUS - Trotse ouers het Maandagmiddag, 23 Junie, 'n uitpasseringsparade bygewoon waartydens 20 nuwe wetstoepassers amptelik uitpasseer het.
Die geleentheid is bygewoon deur Anroux Marais, provinsiale minister vir gemeenskapsveiligheid, Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, adv. Han-Marie Marshall, asook hooggeplaaste personeel van plaaslike wetstoepassing.
Die keuringsproses was streng en het begin met 507 aansoeke waarvan 72 voldoen het aan die kriteria. Uit die groep is 20 gekies. Die 20 nuwe wets- en verkeerstoepassers is almal plaaslike jongmense. Vyf is afkomstig van Toekomsrus, vier van Dysselsdorp, twee van Bongolethu en nege van Oudtshoorn. Die span sal voortaan diens doen vir Oudtshoorn-munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling. Die groep het almal die voorgeskrewe kursus geslaag.
Drie kandidate het uitsonderlik presteer, Jenobial Muller (91%), Sinovuyo Vaaltyn (87%) en Ronaldo Manewick (87%).
Die 30-dae program wat hulle moes voltooi bestaan onder andere uit:
Wetstoepassing en die grondwet, Die Grondwet van Suid-Afrika, Beginsels van strafreg en strafprosesreg, Uiteensetting van die strafprosesreg, Wetgewing rondom die Nasionale Padverkeerswet wat betrekking het op verkeersbeamptes, die wet rondom bewyse in kriminele howe, die uitskryf van administratiewe kennisgewings en professionele gedrag en die etiese kode wat deur wetstoepassers gevolg moet word.
Fotogalery: 20 Nuwe wetstoepassers vir Oudtshoorn
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’