Update
OUDTSHOORN NUUS - Een van twee botsings in Meiringspoort hierdie week, het die lewe van 'n 87-jarige man geëis. Die noodlottige botsing het Woensdag om ongeveer 11:00 plaasgevind toe die Opel Corsa waarin die oorledene en sy vrou passasiers was, van die pad geloop en gerol het.
Die man, wie se identiteit nie nou geplaas word nie, se vrou is ook in die ongeluk beseer. Sover vasgestel kon word is hul dogter, wat die voertuig bestuur het, nie ernstig beseer nie.
Volgens Nadia Ferreira, hoofkommuni-kasiebeampte van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die 87-jarige man onderweg na die hospitaal aan sy beserings beswyk. Beide die vroulike pasiënte is vir sagteweefselbeserings behandel waarna een ontslaan is.
Volgens Ferreira sou die ander vrou gisteroggend ontslaan word nadat sy 'n aand vir waarneming in die hospitaal gehou is. Die oorledene is met 'n ER24-ambulans na Oudtshoorn geneem en die twee vroue is deur Metro-nooddienste hospitaal toe geneem.
Aanvanklike inligting het daarop gedui dat die drie mense vanaf Riversdal na Viljoenskroon onderweg was toe die botsing plaasgevind het.
Die botsingstoneel Woensdagoggend in Meiringspoort.
Vragmotor
Die ander ongeluk het Dinsdag plaasgevind toe 'n vragmotor en sleepwa met 'n vrag lusern op 'n draai by Rooi-uitspanningsdrif omgeslaan het. Dit is een van die eerste draaie van die poort aan die kant van Klaarstroom.
Die bestuurder van die vragmotor is met nekbeserings hospitaal toe geneem. Dit was die derde vragmotor wat sedert verlede jaar by dieselfde drif omgeslaan het.
In Augustus 2017 het bykans 30 000 liter diesel in die rivier beland toe 'n tenkwa daar omgeslaan het en enkele dae later het nog 'n vragmotor met veevoer naby die drif omgeslaan.
Lees 'n vorige artikel hier: Vragmotor slaan om in Meiringspoort
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'