OUDTSHOORN NUUS - Die gemeenskap van Dysselsdorp is in rou gedompel na die verdrinking van Leroy 'Lielie' Roman (17), 'n leerder van Eljada Kairos Skool. Eljada is 'n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes. Die voorval het Saterdag 12 Oktober plaasgevind.
Volgens ao. Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisie van Dysselsdorp Saterdagmiddag omstreeks 13:54 op 'n klag in Kammanasieweg, Dysselsdorp gereageer.
"Met hul aankoms het hulle die liggaam van die 17-jarige seun gevind. Dit is steeds onbekend wie sy liggaam uit die water gehaal het. Mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar."
Hennie Baartman, die hoof van Eljada Kairos Skool, het bevestig dat Leroy 'n leerder van die skool se senior kampus was en binnekort met skool sou klaarmaak.
"Hy was regtig 'n goedgemanierde en gedissiplineerde jongman wat baie geliefd was onder sy klasmaats en onderwysers. Die familie is stukkend. Dit is die tweede kind wat hulle op 'n onnatuurlike manier aan die dood afstaan. Ongeveer 'n jaar en 'n half gelede is hul ander kind in Dysselsdorp doodgery."
Baartman sê hy het met die ouers gesels en weens finansies sal hulle Leroy nie die naweek kan begrawe nie.
"Leroy se ouers kan tans nie 'n begrafnis bekostig nie en het ook nie 'n begrafnispolis nie. Hulle beoog om hom op 26 Oktober te begrawe."
Baartman het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om die gesin in hierdie moeilike tyd te ondersteun. Enigeen wat graag wil help om die begrafniskoste te help dek, kan Baartman by 082 510 4211 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’