OUDTSHOORN NUUS - 'n Man en sy vrou van Nigerië, Jude Egbuwa (36), en Suzan Maduka (40) wat aan handel in dwelms skuldig bevind is, is Maandag 15 Julie in die Oudtshoorn-streekhof elk 17 jaar tronkstraf opgelê.
Die hof het Egbuwa (36) en Maduka (40) se getuienis dat hulle nie weet aan wie die dwelms behoort het nie verwerp en bevind dat die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, die staat se saak bo redelike twyfel bewys het.
Die polisie het op 10 November 2020, op 'n perseel in Adderleystraat, Oudtshoorn, beslaggelê op dwelms met 'n geraamde straatwaarde van byna R500 000, asook R50 000 kontant.
Die dwelms is in 'n Wendy-huis gevind, en die geld in 'n kluis in een van die slaapkamers van die huis. Die egpaar se regsverteenwoordiger, Ben Matthewson, het die hof vir opgeskorte vonnisse gevra.
Hy het vir die twee se vrylating gevra sodat hulle na hul drie minderjarige kinders kan gaan soek, en vir hulle kan sorg.
Hy het verder aangevoer dat die geld wat op die perseel gevind is, geld was wat Maduka se niggie vir haar van oorsee gestuur het om weer haar besigheid aan die gang te kry en dat dit R70 000 was.
Volgens hom het Maduka swaar grootgeword en onder moeilike omstandighede tog hard gewerk, en 'n graad in chemiese ingenieurswese agter haar naam het. Sy het ook nie vorige veroordelings nie.
Saaiman het die hof versoek om nie af te wyk van die minimum vonnis nie, omdat dwelms gemeenskappe vernietig en dwelmsmouse in weelde leef. Die gemeenskap verwag van die howe om swaar vonnisse vir handel in dwelms op te lê.
Streeklanddros, Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê die Wes-Kaap is die provinsie wat die meeste geaffekteer word deur dwelmhandel, en 'n boodskap uitgestuur moet word wat andere sal afskrik.
Die hof het beide Egbuwa en Maduka tot 17 jaar tronkstraf gevonnis, en hulle is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Voorts het die hof gelas dat die dwelms aan die staat verbeurd verklaar moet word en maatskaplike dienste die egpaar se drie minderjarige kinders opspoor en hulle in 'n plek van veiligheid moet plaas.
'n Aansoek van die verdediging om teen die skuldigbevinding en vonnisse te appelleer is na die vonnisoplegging deur die hof geweier.
Sers. Pillip Figeland van die Valke was die ondersoekbeampte in die saak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’