OUDTSHOORN NUUS - Nehemiah Jacobs (14), 'n graad 8-leerder aan Hoërskool Môrester, het Saterdagoggend verdrink terwyl hy saam met van sy vriende in 'n dam in Stolsvlakte gaan swem het.
Volgens sy ma, Elzane Jacobs, kon haar seun nie swem nie, en het sy ook nie geweet dat hy Saterdag sou dam toe gaan nie.
"Die kinders speel mos maar, maar ek het nie gedink dat hy sou dam toe gaan nie omdat hy nie kon swem nie. Die dam is nie baie ver van waar ons woon nie."
Jacobs sê dat een van haar seun se maatjies se ma haar kom haal het en gesê het dat Nehemiah by die dam is en nie wil huis toe kom nie - sy moet hom gaan haal.
"Ek het nie geweet hy is dood nie. Toe ons daar aankom het ons die nuus ontvang dat hy verdrink het."
Volgens haar het die vriende wat saam met Nehemiah by die dam was, vir haar gesê dat hy twee bottels om sy lyf vasgemaak het en toe gaan swem het.
"Dit moes iets wees wat hy op TikTok gesien het. Hy het seker gedink hy gaan dryf met die bottels om sy lyf. Die vriend het gesê dat hulle op 'n stadium gesien het hoe hy twee keer probeer het om by die water uit te kom, en toe verdwyn hy. Hulle kon hom nie kry nie."
Die polisie is na die toneel ontbied, waarna polisieduikers van George se hulp aangevra is om Nehemiah se liggaam uit die water te haal.
"Een van die seuns het 'n klip in die dam gegooi om te wys waar hy verdrink het, en dit is ook daar waar hulle sy liggaam gevind het. Dit het hulle nie eens lank gevat nie."
Jacobs sê hy is haar oudste en 'n baie rustige kind.
"Hy het nooit uitgegaan en moelikheid gemaak nie. Hy was meestal by die huis waar hy video's gekyk het en dan wou hy alles probeer wat hy gesien het. Ek gaan hom verskriklik mis."
Hoërskool Môrester het ook hul medelye op Facebook aan hom betoon.
"Ons as skool [wil] ons diepste medelye betuig aan sy gesin, vriende, onderwysers en almal wat sy kort maar waardevolle lewe geken het . . . Nehemiah was 'n jong man met 'n helder toekoms wat altyd met 'n skaam, vriendelike glimlag en 'n opregte hart na die wêreld gekyk het. Sy teenwoordigheid in die skool en in die gemeenskap sal vir altyd onthou word.
"Dit is moeilik om die regte woorde te vind in sulke tye, maar ons weet dat hy 'n indruk op almal gelaat het, en sy nalatenskap sal voortleef in die herinneringe van diegene wat hom geken het," lui die skool se boodskap.
Volgens Jacobs is die polisie nog besig met die nadoodse ondersoek en sal hulle hom eers volgende week kan begrawe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’