KANNALAND NUUS - Denise Dullman (33) van Dwarsrivier in die Ladismith-distrik, is steeds geskok oor haar seun, Jerome (13), se skielike, onverklaarbare dood die afgelope naweek,
Jerome, 'n gr. 8-leerder verbonde aan Ladismith Sekondêr, is Saterdagoggend, 8 Junie, dood in een van sy vriende se wonings aangetref.
Volgens Dullman was Jerome vir die naweek by die huis aangesien hy by die skool se koshuis deur die week woon.
"Hy het Vrydagaand 'n partytjie hier naby die huis bygewoon. Sy nefie het my Saterdagoggend kom roep toe hulle sy liggaam op die bed aantref. Ek het dadelik na die huis toe gegaan," het sy vertel.
Denise Dullman, Jerome se ma. Foto: Deon Meyer
Volgens haar kan sy glad nie verstaan wat moontlik sy dood kon veroorsaak nie, omdat hy 'n gesonde seun was en niks makeer het nie.
"Hy het 'n groot liefde vir sy duiwe gehad. Hy was soms stout, maar oor die algemeen was hy regtig 'n goeie seun. Hy sou November 19 jaar oud geword het," het sy gesê.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder het bevestig dat die seun by 'n woning dood verklaar is.
"Die Ladismith-polisie het 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen na die dood van 'n seun by 'n woning Saterdag. Beskikbare inligting dui daarop dat die polisie na 'n huis by Dwarsrivier ontbied is waar die seun die vorige nag gaan slaap het. Sy naasbestaandes het hom die volgende oggend gevind, maar hy het nie gereageer nie. Paramedici het die seun later dood verklaar. 'n Nadoodse ondersoek sal vandeesweek gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal."
Geen begrafnisreëlings kon nog getref word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’