DE RUST NUUS - Die NG Kerk De Rust vier hierdie jaar die kerk se 125ste bestaansjaar en die makietie om dit te vier begin Woensdag 30 November met 'n vol program vir kaartjiehouers.
Buiten 'n kunsuitstalling binne die kerk is daar 'n Kersmark, boeresport, spitbraai, potjiekos en heelwat vermaak vir groot en klein.
Daar sal ook 'n argief-uitstalling, 'n oudiovisuele program en 'n spesiale orreluitvoering wees. Die Saterdagaand sal Coenie de Villiers 'n optrede hou en Sondag sluit die feesvieringe af met 'n kerkdiens waartydens ou predikante van die kerk die boodskap sal lewer.
Geskiedenis
Die NG Kerk De Rust is op 28 November 1899 gestig met JG Steytler wat die eerste predikant was. Volgens geskiedenis het SDP le Roux en Johannes Jurgens Schoeman 'n plaas genaamd De Rust gekoop met die doel om 'n nuwe gemeente te stig.
Die kerkraad se geldelike ondersteuning is gevra vir die taak en is daar tydens 'n opvolgvergadering op 3 April 1899 besluit om 'n bruidskat van £2 000 aan die gemeente te skenk.
Die twee here Schoeman en Le Roux, wat as die vaders van die nuwe dorp sowel as die nuwe gemeente beskou kan word, het onmiddellik aan die werk gespring om die nodige waarborglyste vir die afstigting in orde te bring. Laat in 1899 was alles gereed en op 28 November 1899 het die Ringskommissie van die Ring van George, naamlik D Rossouw, AG du Toit en JA Beyers in De Rust vergader met die doel om in De Rust 'n nuwe gemeente te stig.
Die kerk word gebou
Die eerste kerkraadsvergadering is op 7 Februarie 1900 gehou waar besluit is om die kerkraad van Oudtshoorn te versoek om oor drie maande die £2 000 in te betaal. Die jong gemeente moes die eerste nagmaalsviering op 29 April 1900, in die opelug onder die bome langs die huis van L Roux hou, waar die meeste dienste voor die voltooiing van die kerk plaasgevind het.
Die dringendheid om dadelik aan die bou van die kerk te begin was duidelik, selfs voor die gemeente sy eie leraar gehad het. Op 3 Maart 1900 is besluit om 'n kerk van 600 sitplekke teen £3 000 te laat bou.
Die wyse van bou, naamlik dat die kerkraad al die materiaal sou verskaf, het elke gemeentelid geleentheid gehad om sy of haar deel, hoe gering ook, by te dra.
George Wallis van Oudtshoorn is as argitek aangestel. In Junie 1900 is tenders gevra. Sement is deur gemeentelede in Oudtshoorn gehaal en vir die breek van klippe vir die fondament is gratis arbeid aangebied.
Mosselbaai was destyds die naaste spoorwegstasie en het die kerkraadslede opdrag ontvang om vrywilligers te soek vir die vervoer van goedere, wat per wa moes geskied. By 'n vergadering in September 1900 het 32 lede aangebied om of geldelike bydraes te maak, of waens te lewer vir die vervoer van boumateriaal vanaf Mosselbaai. Ouderling Schoeman het die hoeksteen uit Italië bestel en aan die gemeente geskenk.
Die hoeksteenlegging het op 28 November 1900 plaasgevind en is waargeneem deur ds JA Beyers. Die bouwerk aan die kerk het ongeveer twee jaar geduur waarna die kerkraad noodgedwonge 'n nuwe bouer moes kry wat ekstra kostes meegebring het.
Op 29 November 1902 het die kerk sy eerste amptelike leeraar, JG Steytler bevestig en het hy tot 1905 by die kerk gedien. Tydens sy tyd is die pastorie en kerksaal voltooi.
FP Steytler, seun van die eerste leraar, is in Augustus 1902 deur die kerkraad van De Rust genader om tydelik by die kerk as leraar te dien. Op 29 November 1902 is hy amptelik tot leraar van die gemeente bevestig.
Inwyding van die kerk
Einde Oktober 1902 is die laaste bouwerk aan die kerkgebou voltooi en kon die gemeente begin reëlings tref vir 'n dubbele fees, naamlik die inwyding van die kerk en die bevestiging van die eerste leraar. In 1912 is galerye in die kerk aangebou en in 1914 is 'n goeie orrel teen £700 aangekoop.
In Februarie 1949 is die 50-jarige bestaan van die gemeente feestelik gevier.
- Bron: NG Gemeente De Rust -Gemeentegeskiedenisargief
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’