Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n 12-jarige seun, Juwayne Adams, is Vrydagmiddag ernstig beseer toe 'n korfbalpaal bo-op hom geval het.
Die voorval het in Hectorstraat, Bridgton, plaasgevind op 'n korfbalbaan wat aan die munisipaliteit behoort.
Juwayne se pa, Winston Adams, sê sy seun is Vrydag vanaf George-hospitaal na Rooikruis-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
"Hy is wakker, maar sy toestand is steeds kritiek. Hy het bloeding op die brein en die dokter kan nie die bloeding stop voor die swelling op sy brein gesak het nie. Hulle kan ook nie nou al bepaal of my kind breinskade het of nie."
Volgens Adams praat Juwayne met hulle, maar hy is baie deurmekaar.
"Sy ma is tans by hom, maar hy wil vreeslik graag huis toe kom."
Volgens 'n man wat die Oudtshoorn Courant oor die voorval genader het, was die paal in 'n slegte toestand. Die man verkies om anoniem te bly.
"Ek en van my vriende sit soms op die stoep omdat so baie misdaad in ons omgewing is. Ek het Vrydag na die paal gekyk en vir my een vriend gesê iemand gaan nog baie seerkry by die paal. Die paal was vorentoe gebuig want die kinders speel wedstryde daar en maak soos die oorsese spelers en hang aan die net as hulle die doel ingooi."
Volgens hom het daar later kinders opgedaag wat op die baan gespeel het.
"Ek het skielik 'n harde slag gehoor en toe ek gaan kyk toe sien ek die kind daar lê. Sy maats het gesê hy het aan die paal gehang en die paal het omgeval en op sy kop geland. Hy het self onder die paal uitgerol en ons het die dokter oorkant die pad gaan haal en nooddienste gebel."
Ebenezer Titus, 'n lid van die Bridgton-korfbalklub, sê hulle gebruik die baan ongeveer drie keer 'n week vir oefeninge en het al van te vore by die munisipaliteit oor die toestand van die baan gekla.
"Ons het in Meimaand vanjaar 'n vergadering met die munisipaliteit gehad en ook met ander komitees van verskeie sportkodes in Oudtshoorn. Ons het vir hulle gesê die baan is onveilig en dat die paal 'n gevaar inhou vir kinders. Daar is geen heining om die baan nie en is dus oop vir die publiek wat graag daar gaan partytjie hou. Sommige mense urineer ook sommer daar en die volgende dag is die baan vuil en vol glasstukke."
Titus sê weens die toestand van die baan kan die kinders nie wedstryde teen ander dorpe speel nie.
Die 11-jarige kind het onder die paal uitgerol na dit op hom geval het.
"Ons het dit ook al vir die munisipaliteit gesê, maar hulle het tot dusvêr niks daaromtrent gedoen nie. Die baan is al 20 jaar oud en daar is nog nooit enige onderhoudswerk aan die baan gedoen nie."
Volgens Titus was daar ook net die een paal wat op die baan gestaan het.
"Die ander een is 'n paar jaar gelede omgery, maar is nooit vervang nie."
Die Oudtshoorn Courant het die week 'n navraag aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur en hulle het die voorval bevestig.
Die navrae wat die koerant rakende vorige klagtes oor die toestand van die baan gestuur het, het hulle egter nie geantwoord nie.
Lees 'n vorige artikel: 11-jarige ernstig beseer na paal op hom val
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'