OUDTSHOORN NUUS - 'n 11-jarige seun is Vrydagmiddag ernstig beseer toe 'n basketbalpaal bo-op hom geval het.
Die voorval het in Hectorstraat gebeur op 'n basketbalbaan wat aan die munisipaliteit behoort.
Volgens 'n man wat die Oudtshoorn Courant oor die voorval genader het, was die paal in 'n slegte toestand. Die man is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar hy verkies om anoniem te bly.
"Ek en van my vriende sit soms op die stoep omdat daar so baie misdaad in ons omgewing is. Ek het Vrydag na die paal gekyk en vir my een vriend gesê iemand gaan nog baie seerkry by die paal. Die paal was voorentoe gebuig want die kinders speel wedstryde daar en maak soos die oorsese spelers en hang aan die net as hulle die doel ingooi."
Volgens hom het daar later kinders opgedaag wat op die baan gespeel het.
"Ek het skielik 'n harde slag gehoor en toe ek gaan kyk toe sien ek die kind daar lê. Sy maats het gesê hy het aan die paal gehang en die paal het omgeval en op sy kop geland. Hy het self onder die paal uitgerol en ons het die dokter oorkant die pad gaan haal en nooddienste gebel."
Sover vasgestel kan word het die kind ernstige kopbeserings opgedoen en is hy tans in 'n hospitaal in Kaapstad. Geen verdere inligting oor sy toestand is beskikbaar nie.
Lees die volledige berig in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'