OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat Dysselsdorp nie die vlaag moorde wat oor die afgelope maande in die Groter Oudtshoorn-omgewing plaasgevind het vrygespring het nie.
Dit na nog twee onlangse moorde onder-skeidelik op Dinsdag 4 Julie in Dysselsdorp en Saterdag 8 Julie in Oudtshoorn.
Dit bring die aantal moorde tussen die twee dorpe oor die afgelope ses maande op
11 te staan. In beide gevalle is verdagtes in hegtenis geneem.
Dysselsdorp
In Dinsdag se voorval het Dysselsdorp-speurders, volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, 'n moorddossier geopen na die dood van Damon Marnewick (54). Spies sê dat Marnewick omstreeks 17:15 in Asterstraat gevind is.
"Daar word beweer dat twee mans in 'n bakleiery betrokke geraak het waarna die slagoffer 'n meswond aan sy bors opgedoen het. Hy is later op die toneel dood verklaar," sê Spies.
Oudtshoorn Courant het by 'n betroubare bron verneem dat die mans swaers was.
Volgens Spies het polisiebeamptes later 'n 55-jarige verdagte in hegtenis geneem op aanklag van moord en het hy reeds in die hof verskyn. Die saak is tot Vrydag 14 Julie vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel. Die ondersoek duur voort.
Bongolethu
Volgens Spies ondersoek Oudtshoorn-speurders die dood van 'n 34-jarige man nadat sy liggaam omstreeks 23:15 in 'n voertuig in Dertiendelaan, Bongolethu gevind is.
Spies sê dat die beskikbare inligting daarop dui dat, met die aankoms van polisiebeamptes op die toneel, die man met steekwonde aan sy bors en nek gevind is. Paramedici het die slagoffer op die toneel dood verklaar en 'n moorddossier is geopen.
Sedertdien, is 'n 35-jarige man in hegtenis geneem in verband met dié moord en het op 10 Julie in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Oudtshoorn Courant het navraag gedoen oor die identiteit van die oorledene, wat volgens 'n betroubare bron 'n weermaglid was, maar teen druktyd is geen antwoord ontvang nie.
Volgens Leon Campher, raadslid en gemeenskapsaktivis, wag hy self vir inligting oor beide moorde.
"Maar die statistieke van moorde in die omgewing ruk nou handuit. Daar sal dringende polisie-ingryping moet wees, maar tot dusver lyk dit asof daar niks gebeur nie. Ek gaan so vinnig as moontlik 'n vergadering met die polisie se hoofde reël sodat optrede verskerp kan word," sê Campher.
Campher glo daar sal selfs ingryping op nasionale vlak moet plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’