OUDTSHOORN NUUS - 'n Man (42) van Dysselsdorp is Vrydag 15 Augustus in die Oudtshoorn-streekhof op drie aanklagte van aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind.
Hy is vir 11-jaar tronk toe gestuur nadat die hof twee van die klagtes vir vonnisdoeleindes saamgevoeg het.
Die 42-jarige Garreth Olivier is daarvan aangekla dat hy op 8 Maart 2024, sy saamleefmaat, Josephine du Plessis, met die vuiste geslaan en met klippe gegooi het.
Ten spyte van 'n beskermingsbevel wat sy teen hom verkry het, het hy haar weer op 26 Junie 2024 naby die Dysselsdorp-gemeenskapsaal en -biblioteek geklap, met die vuiste en ook met ‘n graaf geslaan.
Olivier het onskuldig gepleit, maar sy weergawe is deur die hof verwerp omdat hy nie kon verduidelik hoe die klaer aan haar beserings gekom het nie en nie 'n goeie indruk op die hof gemaak het nie.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Olivier se vorige vonnisse, asook ‘n opgeskorte vonnis wat in werking gestel kan word, is verswarend.
Die hof het afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van tien jaar omdat dertig jaar vir die drie aanklagte skokkend onvanpas sal wees.
Hy is tot 5 jaar op die eerste klag gevonnis en ses jaar op klagtes twee en drie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’