Breaking News Video
OUDTSHOORN NUUSFLITS EN VIDEO - 'n Passasier in 'n afleweringsvoertuig is vanoggend omstreeks 05:00 dood in 'n botsing op die George-pad sowat 12 km buite Oudtshoorn.
Die oorledene was deel van 'n span van 10 mense wat na Ladismith onderweg was om pamflette te versprei.
Volgens die bestuurder van die voertuig het hy in 'n skerp draai geskrik vir 'n voël wat teen die voertuig vasgevlieg het.
Hy het links van die pad afgery en met die linkerkant van die voertuig teen die rotswand vasgery.
Die bestuurder is ongedeerd.
Agt passasiers met ligte beserings, is met twee ambulanse na die Oudtshoorn hospitaal geneem.
Die botsing het sowat 'n kilometer vanaf die Perdeskoendraai in 'n skerp draai plaasgevind.
Die voertuig behoort aan 'n verspreidingsmaatskappy in George.
Daar was die afgelope paar jaar ten minste sewe botsings, waarin ten minste drie persone gesterf het, op dieselfde plek.
Kyk 'n video hieronder.
Die botsingstoneel ongeveer 20 minute na die botsing. Die wit kol is op die foto geplaas om die oorledene te verberg.
Lees die jongste nuus | Opvolg: 1 Sterf in ongeluk
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'