Gallery
OUDTSHOORN NUUS - In ‘n poging om die moraal van die munisipale amptenare te verhoog, het Oudtshoorn munisipaliteit ‘n 'Wellness Day' op Vrydag 1 Junie by die De Jager Sportkompleks gehou.
Die munisipale menslike hulpbronafdeling het Junie maand gemerk as werk/loopbaan en intellektuele maand.
“Laat ons almal onsself daaraan herinner hoe geëerd ons is om deel van die arbeidsmag van Suid-Afrika te wees” het die uitvoerende burgemeester,” raadslid Colan Sylvester, gesê.
Deel van die dag se verrigtinge was ‘n potjiekoskompetisie waaraan die verskillende departmente deelgeneem het. “Dankie aan al die potjiekosmeesters wat hul kooktegnieke langs die vure sal wys,” het Sylvester hulle voor die aanvang van die kompetisie aangemoedig. Nie eers die welkome reën kon die feestelike gemoedere laat daal onder die werknemers en hul potjiekos vure nie.
“Die doel van die hele aangeleentheid is om 'n gevoel van samehorigheid tussen werkgewer en werknemer te bewerkstellig, die klem op die belangrikheid van persoonlike welstand te sit en ook om die munisipaliteit se verhoudings met alle relevante belangegroepe te versterk,” het Ntobeko Manqwengqwe, munisipale woordvoerder, gesê.
Verskeie sprekers het deel van die openingseremonie uitgemaak.
Die wenners van die potjiekoskompetisie.
Hierdie sprekers het die geleentheid gebruik om die werkers advies te gee oor hoe om ‘n gesonde lewenstyl te handhaaf, finansieël, op werksvlak en met hul toekomsbeplanning.
Daar was ook heelwat stalletjies waar werkers kon gaan vir hulp en advies vra.
“Die werknemer bystand program van die munisipaliteit word bestuur na gelang van die sewe dimensies van welstand, naamlik geestelike, finansiele, omgewing, sosiaal, kultuur, emosionele en fisiese welstand. Wanneer jy ‘n gesonde werknemer op alle vlakke van sy lewe het, dan pluk die werkgewer die vrugte daarvan,” het Sylvester gesê.
Finansies: Uitgawes, is as die wenners van die potjiekoskompetisie aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'