OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Skoenboksprojek, wat vir die tiende keer aangebied word, het hierdie maand reeds begin. Met dié projek word mense gevra om 'n skoendoos met geskenke en lekkernye ter waarde van R250 te vul wat Kersfees aan behoeftige kinders en bejaardes gegee word.
"Ons begin weer vroeg met die projek sodat elkeen ‘n kans het om betyds betrokke te raak,” sê Anneline Smith, een van die organiseerders.
“Ons skoenboksprojek is uniek omdat dit vir ‘n spesifieke kindjie of bejaarde gepak word. Die inhoud verskil en dit laat die ontvanger spesiaal voel.”
Ter wille van eenvormigheid is 'n maksimumwaarde van R250 per skoendoos vasgestel, en meer as een persoon kan bydra tot die inhoud van ‘n skoendoos.
Die projek betrek inwoners van Oudtshoorn, George, Hartenbos en Knysna. ‘n Inwoner wat deelneem kies die naam en ouderdom van ‘n spesifieke persoon by ‘n deelnemende instansie en vul ‘n skoendoos met geskenke wat vir daardie persoon geskik is.
Die instansies in Oudtshoorn en omgewing wat vanjaar as begunstigdes gekies is, is Huis Triomf, Solidariteit Helpende Hand, Kleine Kuikens by De Rust, Eljada Sorgsentrum en Vreugdevoetjies-kleuterskool by Schoemanshoek, Britsevlakte Preprimêr in Uniondale en Gert Greeff-ouetehuis in Willowmore.
Om deel te neem aan die projek word skenkers gevra om die volgende te doen:
- Versier 'n skoendoos en vul dit met geskenke en ‘n lekkerny
- Skryf ‘n inspirerende boodskap op die deksel of plaas dit in die skoendoos
- Skryf die naam en huisnommer of instansie se naam op die deksel sodat dit by die regte ontvanger kan uitkom
- Lewer die skoendose voor 16 November af by Anneline Smith, Melvillestraat 46.
Kontakbesonderhede
Vir verder inligting skakel Petro by 072 967 8322 of Anneline Smith by 084 703 5000 of per e-pos by AnnieOudtshoorn@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'