OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant het kontak gemaak met ‘n man wat homself Ryan noem en reeds verskeie besighede in Oudtshoorn ingeloop het. Hy skakel ondernemings vir kwotasies wat by sy huis gegee moet word, maar vra dan dat Vodacom lugtyd van R295 gekoop word en vir hom gestuur word, sodat hy met die transaksie kan voortgaan.
Verskeie mense het vir die slenter geval net om agter te kom die adresse wat hy verskaf bestaan nie.
Hulle nommers word daarna op sy foon geblokkeer sodat hy nie gekontak kan word nie. Een van die besigheidseienaars het die volgende sms ontvang net voordat hy sou vertrek om die kwotasie te gee:
“Hi Hanis hope iv spelt it correct please buy for us 4x R275 Vodacom just the normal one. My wife Chloe says thanks a million you are a life saver! Please just give us a call as soon as you stop and get it so Chloe can quickly log back on. Thanks again. Regards Ryan”
Die man het egter agtergekom die besigheidsman vermoed dit is ‘n slenter en nie verder met hom kontak gemaak nie. Die nommer vanwaar die sms gekom het is 071 405 5905. Die Oudtshoorn Courant het die nommer vanoggend geskakel en met “Ryan” gepraat.
Aanvanklik het hy volgehou dat hy kwotasies soek, maar toe hy gekonfronteer word met sy slenter het sy hele houding verander. “Good luck to find me. F@#% you, there’s no f@#$%^ way in hell you will find me. This number is not a RICA number”.
Volgens ‘n lid van die polisie kan die selfoontoring vanwaar die foon seine uitstuur wel opgespoor word, maar dit kan slegs gedoen word as iemand wat deur die slenter ingeloop is, ‘n kriminele klag gaan lê.
Intussen word inwoners gewaarsku om onder geen pmstandighede geld of lugtyd aan mense te stuur, ongeag hoe geloofwaardig hulle stories klink nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'